Murphy Roberts
Saldanha is ten spyte van sy 25-27- nederlaag op Saterdag 23 Augustus op die Grafkelder steeds die Weskus-kampioen.
Dié voormalige Boland-kampioen en Vredenburg se Burg Boys gaan die streek in die top-12 verteenwoordig. Young Hearts, wat die eerste ronde oorheers het, het egter in die tweede ronde effens die kluts kwytgeraak en met drie spanne gelyk in die derde plek geëindig – een enkele punt agter Vredenburg.
Vredenburg het Saterdag sy plek teen Goedverwacht met ‘n 66-12-oorwinning bespreek. Young Hearts, wat ook die enigste span in die Weskus-streek is wat Saldanha weg en tuis kon klop, het met goeie aanvallende spel nie
teleurgestel nie en die Grafkelder in ‘n goeie gees gegroet.
In die Swartland-groep het Abbotsdale se Lillies met Wesbank verseker hulle gaan saam top-12 toe. Abbotsdale het Saterdag teen Voorberg die deur in Mamre en Saron se gesig toegeklap toe hulle die tuisspan 15-54 verniel het.
Abbotsdale, wat Saterdag nog eers Mamre moet vir hul laaste wedstryd moet besoek, sal moet volpunte behaal teen Stadler se groentruie en hoop Wesbank kry nie volpunte om as die Swartland-kampioen gekroon te word nie.
Dié twee wedstryde sal ook die laaste in die streek wees. Indien Lillies egter vasval, sal Wesbank as die kampioen gekroon word. Wesbank het ‘n beter punteverskil en het dus die maklikste taak van die twee spanne.
Atlantis het in sy laaste wedstryd teen Pniel vasgeval. Atlantis, wat die wedstryd moes wen om vir die top-ses te kwalifiseer, kon egter nie die wa deur die drif trek.
Grootuitdaag-uitslae
•Weskus:
Young hearts 27-25 Saldanha
Goedverwacht 12-66 Vredenburg
Langebaan 29-25 Paternoster
Steenberg’s Cove 23-28 Piketberg
•Swartland
Riebeeck United 19-34 Porterville
Voorberg 15-54 Abbotsdale




