David Rossouw
Op Maandag 23 Maart het Lief en Leed, wat gestremdes in Mamre en Pella bedien, sy 40ste be- staansjaar in die Mamre-gemeenskapsaal gevier. Die viering is op ‘n besondere wyse saam met die gemeenskappe van Atlantis, Mamre en Pella aangebied.
Verskeie gassprekers het hul gelukwense oorgedra, onder wie die raadslid Allister Lightburn, Charles Oppelt, Christelle Solomons en Selwyl Willoughby van Asez, Hanli Stehl van Nedbank asook dr. Marlene Le Roux, die uitvoerende hoof van Artscape. Hulle het Lief en Leed geloof vir sy volgehoue werk en die gemeenskap aangemoedig om die organisasie te ondersteun.
Vir Michael, Paul en die span, saam met die Tussentydse forum vir mense met gestremdhede, was dit ‘n geleentheid om te wys dat mense met gestremdhede nie net gesien moet word nie, maar erkenning verdien vir hul bydrae tot Suid-Afrika.
Lief en Leed het ook sy toekomsplanne aan die publiek bekendgemaak. Die organisasie beoog om binnekort ‘n eie gebou in Mamre te vestig. Dit sal nie net ‘n tuiste vir mense met gestremdhede wees nie, maar ook ‘n plek waar produkte vervaardig kan word.
Dit sal meer tyd en geleenthede vir die lede skep.
Michael het sy trots oor die mylpaal uitgespreek en almal wat tot die suksesvolle viering bygedra het, bedank. Hy het beklemtoon dat geen mens of organisasie namens Lief en Leed met owerhede sal onderhandel nie, behalwe die Tussentydse forum vir mense met gestremdhede.
Die viering het die gemeenskap herinner dat gestremdheid nie ‘n beperking hoef te wees nie, maar ‘n unieke bydrae tot die samelewing. Met samewerking en organisasies soos Lief en Leed word die krag, talent en vasberadenheid van mense met gestremdhede sigbaar. Dit is ‘n bewys dat hulle nie net deel van die gemeenskap is nie, maar ‘n onmisbare bron van inspirasie en groei.





