Die ondersoekspan
Van links stap sers. Roderick Maasdorp, kapt. Rodney Roos en sers. Elo Hendricks, die ondersoekspan wat die reeksmoordsaak ondersoek.

‘Basie’ eers psigiatries geëvalueer

Die ondersoekspan
Van links stap sers. Roderick Maasdorp, kapt. Rodney Roos en sers. Elo Hendricks, die ondersoekspan wat die reeksmoordsaak ondersoek.

ATLANTIS – Die familie van Lameez Dillman (21), een van drie vroue wie se moorde en verkragtings met Sebastian Douman, beter bekend as “Basie”, verbind word, leef steeds met die ­trauma weens haar dood terwyl die regsproses voortduur.

Die familie se emosies het die afgelope Maandag (2 November) hoog geloop toe Douman vir sy formele borgaansoek weer in die Atlantis-landdroshof verskyn het. Die verrigtinge het in ‘n dramatiese toneel ontaard toe familielede hul woede en frustrasie oor die uitstel van die saak uitgespreek het.

Familielede, wat die hofverrigtinge van die vermoorde Lameez bygewoon het.
Familielede, wat die hofverrigtinge van die vermoorde Lameez bygewoon het, is (van links) Nazeema Davids (niggie), Aneesa Dilman (suster), Dawid Dilman (pa),Washielah Dilman (ma), Shakierah Dilman (suster), Shamirah Dilman (suster) en Fayrooz Botkin (niggie). Foto’s: Murphy Roberts

Die landdros het die saak tot Woensdag 2 Desember uitgestel sodat reëlings getref kan word vir Douman om vir 30 dae in ‘n psigiatriese inrigting vir evaluering opgeneem te word.

Die besluit het nie by Lameez se familie goed afgegaan nie. Tydens die verrigtinge is na bewering ‘n bos sleutels na die beskuldigde gegooi, terwyl familielede hom daarvan beskuldig het dat hy voorgee om geestesongesteld te wees.

“Hy weet presies wat hy doen. Hy speel nou mal,” het familielede uitgeroep.

Die slagoffer se ma, Washielah Dillman, was sigbaar ontsteld en het onder hewige emosie uit die hof gestorm. Sy het haar frustrasie uitgespreek oor die trauma waardeur haar gesin sedert Lameez se dood gaan.

Die emosies het ook in die hofgange hoog geloop toe Lameez se jonger suster, Shakirah, ‘n paniekaanval gekry en later ineengestort het. Familielede moes haar ondersteun en probeer kalmeer.

Washielah Dilman, ma van die vermoorde Lameez, storm histeries uit die hof.
Washielah Dilman, ma van die vermoorde Lameez, storm histeries uit die hof en word deur die familievriend Steven Rex ondersteun.

Washielah het vertel dat Shakirah en Lameez besonder geheg aan mekaar was en dikwels tot laat in die nag gesels het.

Volgens haar huil haar kinders steeds byna elke aand en het die verlies die gesin se lewe onherroeplik verander. Sy sê die familie sukkel om die trauma te verwerk en vertel die gebeure het groot spanning tussen familielede veroorsaak.

Skinderstories het familie verdeel

Washielah het ook vertel dat die familie sedert Lameez se dood verskeie pynlike skinderstories en ongegronde bewerings uit die gemeenskap moes aanhoor.

Volgens haar is selfs beweer dat haar eie pa moontlik by Lameez se dood betrokke kon wees – bloot omdat hy die een was wat op haar liggaam afgekom het.

Die bewerings het verdere spanning en verdeeldheid veroorsaak in ‘n familie wat reeds met ‘n traumatiese verlies moes saamleef.

Sers. Elo Hendricks, een van die ondersoekbeamptes, het ná die hofverrigtinge met die familie gepraat en hulle versoek om tydens toekomstige hofverskynings kalm te bly.

Hy het verduidelik die landdros kan fami­lielede in uiterste omstandighede toegang tot die hof weier indien hulle nie die orde handhaaf nie.

Die staat het tydens die verrigtinge ook aangedui dat die saak na die hooggeregshof verwys behoort te word.

Drie vroue se sterftes onder die vergrootglas

Douman se inhegtenisneming het nuwe hoop op antwoorde gebring vir die families van drie vroue wie se dood Atlantis tussen 2016 en 2021 geruk het.

Hy staan tereg op aanklagte wat verband hou met die moord en verkragting van Meagan Apollis (21), Alzean Thomas en Lameez Dillman (21).

Apollis se liggaam is in Mei 2016 in ‘n Wendyhuis in Sherwoodpark gevind. Volgens inligting oor die ondersoek is haar liggaam onder ‘n bed versteek. Haar dood het vrae oor moontlike verkragting en moord laat ontstaan.

Op Donderdag 4 Maart 2021 is die naakte liggaam van Alzean Thomas agter die Hartebeeskraal- veeldoelige sentrum, ook bekend as die Thusong-sentrum, ontdek.

Sers. Elo Hendricks, een van die ondersoekbeamptes, praat ná die hofverrigtinge met die familie.
Sers. Elo Hendricks, een van die ondersoekbeamptes, praat ná die hofverrigtinge met die familie.

Lameez is in September dieselfde jaar as vermis aangemeld. Haar halfnaakte liggaam is op Donderdag 23 September omstreeks 06:30 deur haar pa in lang, digte gras in ‘n oop stuk veld naby hul woning gevind. Sy is die vorige dag as vermis aangemeld.

Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n polisie­woordvoerder, het die ondersoek gewys al drie vroue is verkrag. Sy het ook vroeër bevestig dat verdere aanklagte moontlik kan volg namate die ondersoek vorder.

Shakirah Dilman, Lameez se jonger suster,  word buite die hof deur familielede ondersteun.
Shakirah Dilman, Lameez se jonger suster, word buite die hof deur familielede ondersteun.

Douman se inhegtenisneming het destyds groot reaksie ontlok, met familielede en vriende van die oorledenes wat hul verligting uitgespreek het. Die ondersoekspan, onder leiding van kapt. Rodney Roos, is ook lof toegeswaai.

Volgens ‘n betroubare bron word Douman ook met ‘n voorval uit 2012 verbind waarin ‘n swanger meisie na bewering verkrag en vermoor is.

Vir Lameez se familie bly die wag op geregtigheid egter ‘n pynlike proses.

Die jongste hofverskyning het opnuut gewys hoe diep die verlies en trauma in die familie en Atlantis-gemeenskap lê.

LEES OOK: Vermeende reeksmoordenaar vas oor moord van drie Atlantis-vroue

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 November 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 November 2026

Gift this article