Murphy Roberts
Die Association Western Cape, ‘n organisasie sonder winsdoel (NPO), het Vrydag 17 April verskillende staatsdepartemente na Atlantis gebring.
Volgens die voorsitter, Deon Britz, bestaan daar ‘n groot behoefte in Atlantis weens talle sosio-ekonomiese uitdagings.
Verskillende sprekers van departemente het die handjievol inwoners verduidelik hoe die prosesse in verskillende departemente werk.
Volgens Theo Petron van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (Sassa) is die aansoek vir ‘n toelaag nou baie meer toeganklik vir nuwe kliënte. Hy het verduidelik met die nuwe biometriese toerusting is dit nou baie maklik vir hulle om nuwe aansoeke te evalueer en die stelsel is ook met baie ander departemente verbind om korrupsie vas te vang.
Petron het ook die verskillende toelae genoem waarvoor aansoek gedoen kan word, en bepaal of die kliënt daarvoor kwalifiseer.
Volgens Xoliswa Silinga van die Departement van Arbeid kan kliënte ook aanlyn aansoek doen om die lang rye te vermy.
Sy het verduidelik dat kliënte aanlyn terugvoering kry. Dit neem gewoonlik ‘n paar dae langer, maar aansoekers hoef nie in ‘n ry te gaan staan nie.
Die doel van die inligtingsessie is om dienste in gemeenskappe te verbeter, het die organiseerders bevestig.
Van die ander staatsdepartemente wat teenwoordig was, is Binnelandse Sake en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Sars).







