Die ATKV-tak in Atlantis se skryf­werksessie 2026 het verlede Saterdag (18 April) die “My Taal, My Komvandaan”-taalprojek, wat in Februarie vanjaar met deelname van primêre en sekondêre skoolleerders begin het, met ‘n prysuitdeling in die Wesfleur-biblioteeksaal feestelik afgesluit.

Altesaam elf jong skrywers van verskillende afdelings het ná die uitdunrondes vir die eindronde op 18 April vir die ATKV-­tak Atlantis se skryfwerksessie 2026, “My Taal, My Komvandaan”, gekwalifiseer. Al die leerders wat deelgeneem het, is met ATKV-sertifikate vir hul kreatiewe bydraes en talent vereer.

Drie leerders in die primêre en sekon­dêre afdelings is deur die beoordelaars van die projek as die algehele wenners aangewys.

Die program is op gepaste wyse met ‘n gebed deur Jolene Bolters geopen, waarna Yolanda La Meyer, die takvoorsitter, ‘n oorsig van die projek en die logistieke verloop met die gaste gedeel het. La Meyer het ook die gaste en jong skrywers geloof vir hul bydrae tot die ATKV-tak Atlantis se skryfwerksessie 2026. Die tak bied jaarliks projekte aan wat skoolleerders en gemeenskapslede betrek om taal en kultuur te bevorder. Hierdie jaar se projek het weer eens die kreatiwiteit van jong skrywers na vore gebring. Abigail Prins, ‘n onderwyser by Grosvenor Primêre Skool, die gasleser van haar spesiale gedig getitel “My Taal, My Komvandaan” voorgelees wat sy self geskryf het, het beklemtoon taal en kultuur is waardes wat gekoester moet word. Sy het leerders en gaste aangemoedig om ‘n liefde vir hul taal te kweek en te onthou waar hulle vandaan kom. Finaliste van die deelnemende skole het hul eie gedigte voorgelees, waarna die wenners aangekondig is.

Christine Lewis, ‘n bestuurslid van die tak, het die wenners vir hul deelname en opoffering bedank, sterkte toegewens met hul skoolloopbane en die pryse namens die ATKV-tak Atlantis oorhandig.

Die pryswenners van die ATKV-skryf-­werksessie 2026 is: Primêre skole: 1ste: Leneshia Manuel, gr. 7 (Grosvenor Primêr); 2de: Kiara-Lee Maarman, gr. 7 (Saxonsea Primêr); 3de: Skyler Engelbrecht, gr. 7 (Reygersdal Primêr). Sekondêre skole: 1ste: Jordan Beukes, gr. 12 (Atlantis Sekondêr); 2de: Lezandre Plaaitjies, gr. 8 (Saxonsea Sekondêr); 3de: Querida Brow gr. 8 (Saxonsea Sekondêr).

La Myeyer het almal ná die byeenkoms vir hul bydraes bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article