ATLANTIS – Nege verdagtes tussen die ouderdomme van 18 en 25 is Donderdag (16 April) in die Covid- informele nedersetting in hegtenis geneem vir diefstal en besit van gesteelde eiendom, nadat 17 platskerm-televisiestelle teruggevind is.

Volgens konst. Ndakhe Gwala, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, volg die inhegtenisnemings op ’n voorval Woensdagaand toe ’n vragmotor naby John Dreyerweg aan die brand gesteek is. Lede van die Openbare Orde-polisie is ontplooi om die situasie te monitor.
Terwyl beamptes die toneel te voet genader het, het hulle die verdagtes opgemerk met platskerm-televisiestelle in hul besit. Die situasie het geëskaleer toe die groep klippe na die polisie begin gooi het.

Die beamptes het die aanval afgeweer en daarin geslaag om nege manlike verdagtes in hegtenis te neem. Die 17 televisiestelle is op die toneel teruggevind.
Die verdagtes sal in die Atlantis-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is.





You must be logged in to post a comment.