Wat ‘n betoging teen die herstel van onwettige elektrisiteitsverbindings deur inwoners van die Covid- informele nedersetting by Witsand moes wees, het egter in ‘n plundertog geëindig. ‘n Vragmotor met Hisense-televisiestelle is gestroop voordat dit aan die brand gesteek is. Die skade beloop miljoene rande.
Volgens kol. Mario Thyse, ‘n polisiewoordvoerder, het die polisie op Dinsdag 14 April Eskom-werkers bygestaan om onwettige elektriese verbindings te verwyder, wat tot die betoging die volgende dag gelei het. Hy het gesê 22 televisieskerms is teruggekry en 13 mense is in hegtenis geneem.
Die polisie ondersoek verskeie klagtes, waaronder openbare geweld, roof, diefstal en opsetlike saakbeskadiging.
Die diefstal van die televisiestelle blyk, volgens ‘n ingeligte, dalk ‘n “inside job” te wees.
Thyse kon nog nie die presiese omvang van die skade bevestig nie, omdat die saak steeds ondersoek word.
Lede van die Openbare Orde-polisie was vinnig op die toneel omdat hulle steeds in die omgewing was ná die vorige dag se optrede om bystand aan Eskom te verleen. Thyse het bevestig die polisie het die toneel Woensdagaand te voet genader toe hulle sien die vragmotor word gestroop.
Terwyl beamptes die toneel genader het, het hulle talle mense met platskerm-televisiestelle in hul besit gekry.
Die situasie het handuit geruk toe die groep klippe na die polisie begin gooi het.
Die beamptes het die aanval afgeweer en daarin geslaag om nege mans in hegtenis te neem. Sowat 17 televisiestelle is op die toneel teruggevind.
Volgens Thyse is nóg verdagtes en platskerm-televisiestelle later, namate die ondersoek gevorder het, teruggevind.







