Young Hearts het verlede naweek (Saterdag 18 April) op die grafkelder St. Helenabaai se Albatrosse met die kous oor die kop terug Agterbaai toe gestuur. Die wedstryd, wat in nat, winderige toestande gespeel is, het steeds goeie spel opgedis. Al twee spanne het hul kanse gebruik, maar die tuisspan se verdediging was die verskil tussen wen of verloor. Young Hearts het die wedstryd 19-10 gewen en dit was ook die rustydtelling.
Young Hearts het met dié oorwinning verseker dat die gaping tussen die voorste spanne nie te groot raak nie. Met die eerste ronde wat nou die halfpadmerk bereik het, is Vredenburg en Saldanha steeds die twee enigste onoorwonne spanne, met Vredenburg se Burg Boys wat ‘n beter punteverskil het. Ruben Abels en sy troepe het ‘n paar taai wedstryde wat voorlê en die span het Saterdag Vredenburg se Burg Boys besoek.
Young Hearts het die karakter om enige span enige dag te klop. Mamre het ook sy tweede nederlaag agtereenvolgens gely toe die groen truie van Kenny Stadller teen Porterville in ‘n wegwedstryd vasgeval het. Mamre sal vinnig sy sokkies moet optrek as hy op ‘n plek in die uitspele wil aanspraak maak.
Atlantis is tans die enigste onoorwonne span in Weskusland. Atlantis het sy eerste twee wedstryde in die WP se C-afdeling maklik gewen. Wat die oorwinnings vir Boelie en sy troepe spesiaal maak, is dat beide wedstryde wegwedstryde was. Atlantis is een van die vroeë spanne in die liga en dinge kan vorentoe net makliker raak. Atlantis het Saterdag tuis gespeel en kan ook volpunte behaal.
Hamlets het wel sy eerste wedstryd verloor, maar opgemaak vir die tuisnederlaag en daarna ‘n wegoorwinning behaal.
• Weens vervroegde spertye sal alle wedstryduitslae aanlyn geplaas word.



