Vir Pieter en Helen van Graan – in 1976 ‘n jong getroude paartjie in hul vroeë twintigs – was daardie jaar ‘n keerpunt in hul lewe. Hulle het in Februarie 1976 hul eenvoudige wo­ning in Richmondpark – beter bekend as Die Vlak – agtergelaat en ‘n nuwe tuiste in Antelopelaan in Avondale, Atlantis, gevind. Dit was ‘n sprong na groener weivelde – ‘n besluit wat nie net sekuriteit en hoop vir hul gesin gebring het nie, maar ook die belofte van ‘n vars begin.

Helen van Graan (72) met 'n foto van haar oorlede  man, Pieter. Foto: David Rossouw
Helen van Graan (72) met ‘n foto van haar oorlede man, Pieter. Foto: David Rossouw

Pieter en Helen het die onbekende saam met hul twee seuns, Jonathan en Shaun, aangedurf en ‘n nuwe lewe begin bou. In die jare wat gevolg het, het die gesin verder gegroei met die geboorte van drie dogters – Ingrid in 1977, Petula in 1981 en Renata in 1982.

Só het die Van Graans hul plek in Atlantis gevestig as ‘n jong gesin wat hand aan hand saam met ‘n jong dorp gegroei en saam met die ontwikkeling van die gemeenskap hul eie verhaal van hoop en volharding geskryf het.

“Ons het geglo dat God aan ons sal voorsien,” vertel Helen. “Om van ‘n sink- en houtstruktuur na ‘n baksteenhuis met twee slaapkamers te kon trek, was vir ons ‘n groot seën.”

Die besluit was nie maklik nie – sonder vervoer en met min geriewe was die gesin aanvanklik vasgepen. Tog het die wete dat hulle ‘n stewige huis sou hê, die swaarkry ligter gemaak.

Helen onthou hoe sy haar kinders elke oggend na Wesfleur Primêr geneem het – te voet – en hulle later weer gaan haal het. Winkels was skaars; kruideniers­ware moes in Saxonwoud gekoop word of hulle moes saam met afleweringsvoertuie Kaapstad toe reis. “Ons kinders het op grondhope gespeel, want speelplekke was daar nie,” sê sy.

Die gemeenskap was ‘n hegte eenheid. Misdaad was skaars, want inwoners het self toegesien dat orde gehandhaaf word. “Ons het mekaar beskerm. Jy kon buite slaap sonder vrees. As iemand iets verkeerd gedoen het, het die gemeenskap ingegryp,” het Helen gesê.

Die naaste polisiekantoor was in Philadelphia, en die gesag van die manne in blou en khaki was onbetwisbaar.

Die beginjare was moeilik. As huur nie betaal is nie, is besittings summier in die straat uitgegooi. Tog het dinge stadig verbeter. ‘n Busdiens het later gekom en Avondale het sy eie winkelsentrum gekry, wat later as Village Reef bekend gestaan het – ‘n plek waar vars groente, vrugte en vis gekoop kon word.

“Atlantis het vir my en my familie ‘n dorp van hoop geword,” sê Helen. “Ek sou dit nie vir ‘n ander plek verruil nie. As werkloosheid en misdaad verdwyn, kan Atlantis weer een van die spogdorpe in die Weskus raak, soos in die dae toe jy op ‘n Vrydag kon bedank en Maandag by ‘n nuwe werk instap.”

Atlantis 50

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article