Die werkkomitee van die Atlantis-teen-Wesco-stortingsgroep – voor is Madelaine Goodall, Charl Damon, Henry Smith en Hillary Swarts met Merlin Muller, Louisa Solomon en Ashley Poole agter. Foto: Murphy Roberts

Die Atlantis- Anti-Wesco-span se boodskap is duidelik. “Ons gesondheid, omgewing en toekoms is op die spel,” sê Hillary Swarts.

Die span het onlangs hul betrokkenheid verskerp deur inwoners by verskeie sleutelplekke in die Atlantis-­sentrum te betrek om ‘n petisie teen die beplande stortingsterrein te teken.

Die doel is om bewustheid te skep en steun te werf teen die voorge­stelde giftige-afvalterrein van Wesco Waste Manage­ment Facility (Edms) Bpk, ‘n Suid-Afrikaanse afvaldienstemaatskappy.

Volgens Swarts is groter gemeenskapsdeelname en beter inligtingsdeling dringend nodig.

Sy het ‘n beroep gedoen op nywerhede, skole, klinieke, hospitale, kerke, moskees, winkelsentrums en die breër publiek om aktief betrokke te raak deur petisies te onderteken en hul stemme te laat hoor.

Die voorgestelde aanleg werk tans aan die proses om water- en afvallisensies te bekom, wat die projek in ‘n kritieke fase plaas.

Volgens Swarts is dit noodsaaklik dat plaaslike gemeenskappe nou optree om die ontwikkeling teen te staan.

Hoewel gebiede soos Melkbosstrand, Duynefontein en Atlantic Beach ook geraak word en saam met Atlantis, Mamre, Pella en Witsand optree deur inligting te deel, het Swarts beklemtoon dat Atlantis en omliggende gemeenskappe nie op ander gebiede kan staatmaak om die stryd namens hulle te voer nie.

“Melkbosstrand se belas­tingbetalersvereniging het reeds geld ingesamel om hul regsaksies te finansier, maar ons sal ons eie regskoste moet dra indien die lisensies goedgekeur word,” het sy gesê. Volgens Swarts is sy reeds in gesprek met verskillende regsklinieke oor die land heen om Atlantis te verteenwoordig.

Volgens die subraad 1-voorsitter, Allister Lightburn, kan hulle nog nie ingryp nie, aangesien niks nog op hul tafel beland het nie. Volgens Lightburn is die aansoekproses tans by die nasionale regering; daarna moet die provinsie en uiteindelik die Stad Kaapstad besluite neem.

Swarts het ‘n dringende beroep gedoen op alle inwoners – veral die jeug en geloofsgroepe – om saam te staan en daadwerklik teen die voorgestelde afvalterrein op te tree.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article