Karin Fortuin, Nicolette Marcus, Alberts Gilbert en Moira Verhaelst van die skeem is opgewonde waarmee die jongspan besig is.

Murphy Roberts

“Ons is keelvol van hoe die gebied lyk en wil ‘n verskil maak!”

Dit is die woorde van selferkende bendelede van Avondale, of die Skeem, soos dit bekend staan.

Dié groep, wat geruime tyd reeds besig is om self skoon te maak, sê hulle het die ondersteuning van inwoners.

Volgens Thirston Kastoor, ‘n selferkende bendelid, spook dit reeds die afgelope twee jaar by hulle om self hul omgewing weer op dreef te kry. Volgens die groep wil hulle ook met die plaaslike raadslid praat oor hul behoeftes om hul omgewing weer veilig en skoon te hou.

“Ons wil ook graag ‘n netbalbaan in een van die ‘gange’ bou omdat kinders in die pad moet speel en dit verskeie veiligheidsrisikos inhou. Ons leen grawe en harke by inwoners en baie keer help hulle ook,” vertel die groep trots.

Volgens Albert Gilbert van Paragonstraat hou hy van wat die jongmanne doen en dit wys ook dat hulle omgee vir die gebied waar hulle woon. “Dit is net my droom dat almal weer in vrede met mekaar kan lewe en dat politieke leiers die jongmanne kan bystaan om die gebied bendevry te kry.”

Volgens nog ‘n inwoner wens sy dat beligting in die stegies aangebring kan word sodat mense vrylik kan beweeg.

Die groep vra ook dat die gemeenskap hulle moet ondersteun en nie hul gemors in die “gang” kom stort nie, want dit is ook ‘n groot uitdaging, vertel hulle.

“Ons wil graag ons eie werkskeppingsprogram begin en vra enigeen wat ons kan help om asseblief na ons uit te reik,” vra hulle.

Volgens die wykraadslid Allister Lightburn sal hy graag met die groep wil vergader en hy sien uit om hulle by te staan met wat hulle nodig het.

“Bendelede” is nou op ‘n missie om hul omgewing skoon te hou terwyl AO Richard van Rooyen, sers. Wilfred Smile en konst. Luann Titus die groep moed inpraat.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article