Murphy Roberts

Ouers en lede van die beheerliggaam by die Robinhill Spesiale Skool het aan amptenare van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gesê die WKOD dra nie die behoeftes van leerders wat spesiale hulp benodig, op die hart nie.

Volgens Joy Davids, die voorsitter van die beheerliggaam, veg ouers ‘n verlore stryd teen die departement. Davids het tydens die oorhandiging van ‘n memorandum aan amptenare verduidelik die skool het talle tekortkominge en die grootste is die gebrek aan klaskamers vir leerders op die outisme-spektrum en die dienste van ‘n verpleegster.

Vervoer is ook een van die grootste probleme veral omdat outistiese kinders baie presies is en gou ongeduldig kan raak veral as die vervoer laat is, het Davids verduidelik. Hulle kry eenvoudig geen kommunikasie indien probleme met die vervoer opduik nie, het die groep gal gebraak.

Die groep voel ook ongelukkig dat leerders die meeste van die tyd of byna elke dag vroeg huis toe gestuur word, wat beteken dat hulle nie juis by die skool opgevoed word nie. Die groep het die departement gevra om dringend ondersoek in te stel. Die gebrek aan opvoedkundige materiaal aan die leerders is ook ‘n probleem, verduidelik Davids – veral omdat die spesiale leerders gereeld besig gehou moet word. “Ons is bekommerd oor ons kinders omdat hulle niks geleer word [nie] en vra die Wes-Kaapse Onderwysdepartement om dringend na die kinders se behoeftes om te sien.

Volgens David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het die lewensvatbaarheidstudie getoon die drie klaskamers vir leerders op die outismespektrum kan nie op die eiendom van die Robinhill Spesiale Skool gebou word nie omdat die gebou nie aan sy departement behoort nie en vir dié rede is dit nie haalbaar nie.

Maynier het bevestig die direktoraat van inklusiewe en gespesialiseerde onderwys-ondersteuning het die haalbaarheid vir ‘n verpleegster evalueer. As gevolg van beperkte beskikbaarheid van verpleegsters word hierdie hulpbronne geprioritiseer vir skole met die grootste behoefte. Volgens die LUR vind die skool baat by die twee nabygeleë klinieke.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article