Murphy Roberts
Die opgradering van die plaaslike atletiekbaan is gewis nie ‘n goedkoop projek nie, het die voorsitter van subraad-1, die raadslid Allister Lightburn, gesê. Volgens Lightburn en die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskaps- dienste en gesondheid, die raadslid Francine Higham, is die eerste prioriteit om die baanoppervlak reg te maak en die beligting te verbeter. Higam het gesê dieselfde word in Blue Downs gedoen en die twee projekte saam kos die Stad ongeveer R60m.
Volgens Lightburn het die komiteelid die veld Maandag 17 Maart saam met ander amptenare besoek.
Lightburn het ook gesê aandag sal aan hamergooi geskenk word en hy hoop die fase sal teen die einde van Junie hierdie jaar voltooi wees.
“Die opgradering van die projek kom gewis nou op die regte tyd,” sê Mario Philander, die voorsitter van die Velocity-atletiekklub. Philander het aan WeskusNuus gesê toerusting is veral vir skoleatletiek baie belangrik. Die atletiekbaan het voorheen onder kritiek deurgeloop omdat daar geen beskerming teen die bloedige hitte is nie.
Volgens Lightburn is die opgradering oor ‘n tydperk van drie jaar. Hy het ook bevestig dat sitplekke en ander fasiliteite gewis aandag gaan geniet en aan die internasionale liggaam (IAAF) se vereistes sal voldoen. Philander het ook sy tevredenheid met die opgradering uitgespreek. Volgens hom kan die opgradering vir veral junior atlete baie beteken.
Philander het ook genoem dat velditems baie aandag benodig omdat dit tans baie onveilig is. Volgens hom is dit ook belangrik dat ‘n klubhuis opgerig word sowel as ‘n gimnasium vir atlete met ‘n elektoniese tydhouer.
Volgens Lightburn sal oor die drie jaar gekyk word na wat die behoeftes van die veld is.




