Beeldmateriaal wys hoe verdagtes tydens die gewapende roof by die drankwinkel toegeslaan het.
Beeldmateriaal wys hoe verdagtes tydens die gewapende roof by die drankwinkel toegeslaan het.

Vyf vas vir gewapende winkelrooftog in Lambertsbaai

Beeldmateriaal wys hoe verdagtes tydens die gewapende roof by die drankwinkel toegeslaan het.
Beeldmateriaal wys hoe verdagtes tydens die gewapende roof by die drankwinkel toegeslaan het.

LAMBERTSBAAI – Inwoners van dié rustige kusdorpie is geskok dat ’n gewapende rooftog in hul dorp plaasgevind het.

Die voorval op Woensdagaand 12 Augustus het kommer onder inwoners gewek nadat vier gewapende mans die Blue Bottle-drankwinkel in Burrellstraat omstreeks 19:05 binnegestorm het.

Videomateriaal van die voorval wys hoe vermoedelik die eienaar met ’n klant agter die toonbank gesels voordat die verdagtes die winkel binnekom.

Een van die verdagtes beweeg agter die toonbank in en dwing die kassier met ’n vuurwapen grond toe. Die videomateriaal wys ook hoe die verdagte die man met die wapen dreig, terwyl hy pleit dat hy nie seergemaak moet word nie.

Die klant en ’n ander jong man word ook agter die toonbank gedwing, waar hulle deursoek word vir enige waardevolle besittings.

Beeldmateriaal wys hoe die voorval in die Blue Bottle-drankwinkel ontvou het. VIDEO: Cohen van den Heever

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, bevestig ook dat die eienaar en klante met ’n vuurwapen gedreig en gedwing is om op die vloer te lê.

“Vyf verdagtes tussen die ouderdomme van 19 en 36 jaar is kort ná die voorval in Piketberg in hegtenis geneem. Die verdagtes het met die eienaar se selfoon, ’n onbekende bedrag kontant uit die kasregister en verskeie bottels alkohol uit die winkel gevlug. Die eienaar en klante het steeds op die vloer gelê toe die verdagtes die winkel verlaat het. Nadat die verdagtes vertrek het, het die eienaar opgestaan en die polisie ontbied. Niemand is tydens die rooftog beseer nie,” voeg Van Wyk by.

Bottels drank en 'n selfoon is in die besitting van die verdagtes gevind.
Bottels drank en ‘n selfoon is in die besit van die verdagtes gevind.

NIe lank daarna nie, is die Piketberg-polisie inkennis gestel dat die verdagtes in die rigting van Piketberg beweeg.

Van Wyk sê polisiebeamptes wat in die gebied gepatrolleer het, het ’n wit Hyundai SUV met vyf mans by ’n nabygeleë vulstasie gewaar. “Die voertuig is voorgekeer en die insittendes en voertuig is deursoek.

“Die polisie het ’n vuurwapen met agt rondes ammunisie, ’n onbekende bedrag kontant wat vermoedelik tydens die Lambertsbaai-rooftog gesteel is, vyf selfone, ’n mes en verskeie bottels whisky gekonfiskeer. Die verdagtes is in hegtenis geneem en is in aanhouding by die Piketberg-polisiestasie.”

Een van die wapens wat die polisie ook by die verdagtes gevind het.
Een van die wapens wat die polisie ook by die verdagtes gevind het.

Piketberg-polisie het sake van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, onwettige besit van ammunisie en die besit van vermoedelik gesteelde goedere geregistreer.

Van Wyk bevestig dat die saak steeds ondersoek word en dat die verdagtes na verwagting op Maandag 17 Augustus in die hof sal verskyn op die genoemde aanklagtes.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 August 2026
    Weslander E-Edition – 13 August 2026

Gift this article