Die drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle vroeër vanjaar ‘n boer van Lambertsbaai met ‘n ysterpyp aangerand, van sy selfoon beroof en ‘n skaap gesteel het, bly in aanhouding nadat die saak Maandag 25 Mei in die Clanwilliam-landdroshof voorgekom het.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, staan Clive Boois (27), Marlon Booysen (24) en Anthony Storm (28) tereg op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en veediefstal.
Die staat beweer die drie beskuldigdes het Hugo Louw (56) op Donderdag 5 Maart vanjaar naby die R364 buite Lambertsbaai, met ‘n ysterpyp aangerand en ernstige, lewensgevaarlike beserings veroorsaak.
Die drie staan ook tereg op ‘n aanklag van veediefstal nadat hulle glo een skaap gesteel het wat aan Louw behoort het.
Hofdokumente toon dat die beskuldigdes op 5 Maart in hegtenis geneem is en op 9 Maart vir die eerste keer in die hof verskyn het.
Tydens Maandag se hofverrigtinge is die beskuldigdes se regte met betrekking tot regsverteenwoordiging en borgtog aan hulle verduidelik.
Hofnotas dui daarop dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie en dat die klaer glo nog nie in ‘n toestand was om ‘n volledige verklaring aan die polisie te gee nie.
Die beskuldigdes bly in aanhouding totdat hulle weer op Maandag 1 Junie in die hof verskyn.
Agtergrond
Louw, ‘n boer en gewilde sanger en storieverteller uit die Lambertsbaai-omgewing, is Donderdag 5 Maart wreed aangeval langs die Lambertsbaai-pad (R365) naby die Wadrif-plaas.
Louw wou die drie beskuldigdes glo ‘n saamrygeleentheid gee, maar het met die opklim van die mans agterop sy bakkie, onraad vermoed oor die inhoud van die sakke wat hulle by hulle gehad het.
Hulle het hom glo begin aanrand toe hy hulle uitgevra het daaroor. In die sakke was glo vleis van ‘n geslagte, vermoedelik gesteelde skaap.
Louw is in ‘n kritieke toestand per helikopter na ‘n Kaapse hospitaal geneem, waar hy aangesterk het en na verskeie operasies aan die begin van April ontslaan is.
Van die plaaslike boere het gehelp om die verdagtes op te spoor, nadat hulle in die bosse weggekruip het, naby waar ‘n geslagte skaap versteek is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het die verdagtes, wat almal vorige veroordelings teen hulle het, bloedbevlekte klere aangehad toe hulle in hegtenis geneem is.
Booysen en Storm het aanvanklik hul borgtogaansoek laat vaar, maar gaan nou op 1 Junie 2026 wel aansoek doen om borgtog.




