Drie bly agter tralies ná aanval op boer en veediefstal by Lambertsbaai

Die gemeenskap staan borgtog teë. Foto: Hetta Saunderson
Die gemeenskap staan borgtog teë. Foto: Hetta Saunderson

Drie bly agter tralies ná aanval op boer en veediefstal by Lambertsbaai


Die drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle vroeër vanjaar ‘n boer van Lambertsbaai met ‘n ysterpyp aangerand, van sy selfoon beroof en ‘n skaap gesteel het, bly in aanhouding nadat die saak Maandag 25 Mei in die Clanwilliam-landdroshof voorgekom het.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, staan Clive Boois (27), Marlon Booysen (24) en Anthony Storm (28) tereg op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en veediefstal.

Die staat beweer die drie beskuldigdes het Hugo Louw (56) op Donderdag 5 Maart vanjaar naby die R364 buite Lambertsbaai met ‘n ysterpyp aangerand en ernstige, lewensgevaarlike beserings veroorsaak.

Hugo Louw en sy vrou, Madél.
Hugo Louw en sy vrou, Madél Louw, ná sy ontslag uit die Chris Barnard-hospitaal. FOTO: Facebook.

Die drie staan ook tereg op ‘n aanklag van veediefstal nadat hulle glo een skaap gesteel het wat aan Louw behoort het.

Hofdokumente toon dat die beskuldigdes op 5 Maart in hegtenis geneem is en op 9 Maart vir die eerste keer in die hof verskyn het.

Tydens Maandag se hofverrigtinge is die beskuldigdes se regte met betrekking tot regsverteenwoordiging en borgtog aan hulle verduidelik.

Hofnotas dui daarop dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie, en dat die klaer glo nog nie in ‘n toestand was om ‘n volledige verklaring aan die polisie te gee nie.

Die beskuldigdes bly in aanhouding totdat hulle weer op Maandag 1 Junie in die hof verskyn.

Agtergrond

Louw, ‘n boer en gewilde sanger en storieverteller uit die Lambertsbaai-omgewing, is op Donderdag 5 Maart wreed aangeval langs die Lambertsbaai-pad (R365) naby die Wadrif-plaas.

Louw wou die drie beskuldigdes glo ‘n saamrygeleentheid gee, maar het met die opklim van die mans agterop sy bakkie onraad vermoed oor die inhoud van die sakke wat hulle by hulle gehad het. Hulle het hom glo begin aanrand toe hy uitgevra het daaroor. In die sakke was glo vleis van ‘n geslagte, vermoedelik gesteelde skaap.

Louw is met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan, wat ernstige kopwonde veroorsaak het, en sy hande is verskeie kere met messe gesteek terwyl hy probeer keer het.

Hy is in ‘n kritieke toestand per helikopter na ‘n Kaapse hospitaal geneem, waar hy aangesterk het en verskeie operasies ondergaan het. Hy is aan die begin van April ontslaan.

Van die plaaslike boere het gehelp om die verdagtes op te spoor nadat hulle in die bosse weggekruip het, naby waar ‘n geslagte skaap versteek is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het die verdagtes, wat almal vorige veroordelings teen hulle het, bloedbevlekte klere aangehad toe hulle in hegtenis geneem is.

By die eerste hofverskyning op 9 Maart het ‘n groot groep boere, inwoners en belangstellendes by die rondgaande hof in Lambertsbaai opgedaag om borgtog teen te staan.

Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het tydens daardie geleentheid van agterop ‘n bakkie gesê: “As jy ‘n boer aanval, gaan jou gat nie weer die son sien nie.”

Boois, Booysen en Storm het aanvanklik hul borgtogaansoek laat vaar, maar gaan nou op 1 Junie 2026 wel aansoek doen om borgtog.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 28 May 2026
    Weslander E-Edition – 28 May 2026

Gift this article