LAMBERTSBAAI/PIKETBERG – Vyf mans tussen die ouderdomme van 19 en 36 jaar is verlede week kort ná ‘n gewapende rooftog by ‘n drankwinkel in Lambertsbaai in hegtenis geneem.
Die verdagtes is op Piketberg, sowat 128 km van Lambertsbaai af, vasgetrek nadat die polisie inligting ontvang het dat die verdagtes in die rigting van Kaapstad beweeg.
Kapt. FC van Wyk, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, sê beamptes wat die gebied patrolleer het, het ‘n wit Hyundai-sportnuts met vyf mans by ‘n nabygeleë vulstasie gewaar.
“Die voertuig is voorgekeer en die insittendes en voertuig is deursoek. Die polisie het op ‘n vuurwapen met agt stuks ammunisie, ‘n onbekende bedrag geld – wat vermoedelik tydens die Lambertsbaai-rooftog gesteel is – vyf selfone, ‘n mes en verskeie bottels whisky beslag gelê.”
Die vyf verdagtes is in hegtenis geneem en het in die Piketberg-landdroshof verskyn.
Die inhegtenisnemings volg kort ná die rooftog by die Blue Bottle-drankwinkel in Burrellstraat, Lambertsbaai, op Woensdagaand 12 Augustus omstreeks 19:05.
Volgens Van Wyk het die verdagtes die winkel binnegestorm en die eienaar en klante met ‘n vuurwapen gedreig en gedwing om op die vloer te lê.
Videomateriaal van die voorval wys hoe die eienaar met ‘n klant agter die toonbank gesels voordat die rowers die winkel binnekom.
Een van die rowers beweeg agter die toonbank in en dwing die kassier met ‘n vuurwapen grond toe. Die klant en ‘n ander jong man word ook agter die toonbank gedwing, waar hulle deursoek word vir enige waardevolle besittings.
Die rowers het volgens die polisie met die eienaar se selfoon, ‘n onbekende bedrag geld uit die kasregister en verskeie bottels alkohol gevlug.
Die eienaar en klante het steeds op die vloer gelê toe die rowers die winkel uit is. Die eienaar het daarna opgestaan en die polisie ontbied.
Niemand is tydens die rooftog beseer nie.
Dit is nie duidelik of die verdagtes wat aangekeer is, op pad na Kaapstad was nie, maar die voertuig is in Piketberg voorgekeer nadat hulle van Lambertsbaai af in die rigting van die dorp gery het.





