Nasionale eer vir hoof van Hoërskool Trio laat vreugdesvure hoog brand in Kroonstad

Hendré Kachelhoffer, skoolhoof aan die Hoërskool Trio in Kroonstad, is Donderdag by die Birchwood Hotel and Conference Centre in Benoni as die wenner in die afdeling vir uitnemende leierskap in sekondêre skole op die 26ste nasionale onderwyserstoekenningsgeleentheid vereer.
Hendré Kachelhoffer, hoof aan die Hoërskool Trio in Kroonstad. FOTO: Verskaf

Nasionale eer vir hoof van Hoërskool Trio laat vreugdesvure hoog brand in Kroonstad


‘n Kroonstadse skoolhoof is as die wenner aangewys in die afdeling vir uitnemende sekondêre-skoolleierskap op die nasionale onderwyserstoekenningsgeleentheid.

Die skoolgemeenskap van die Hoërskool Trio het rede om fees te vier nadat Hendré Kachelhoffer op Donderdag 1 Oktober by die Birchwood Hotel and Conference Centre in Benoni, Gauteng, hierdie nasionale eerste plek verwerf het.

Die prestasie is die hoogtepunt van ’n suksesvolle pad wat op streeksvlak begin het en Kachelhoffer eindelik tot op nasionale vlak geneem het. 

Hy het aanvanklik die Fezile Dabi-streekronde gewen, waarna hy na die Vrystaatse ronde deurgedring het. Daar het hy teen skoolhoofde van hoërskole van oor die provinsie heen meegeding en ook as die algehele wenner uit die stryd getree. Donderdag is hy op nasionale vlak erken.

Die skool sê die eerbewys is, benewens ‘n persoonlike mylpaal vir Kachelhoffer ‘n besonderse erkenning van die harde werk en toewyding van die skool se bestuur, onderwysers, leerders en die breër skoolgemeenskap.

LEES OOK: Skitter-erkenning vir wiskundehoof van Girls’ High in Kimberley

Die nasionale onderwyserstoekenningsgeleentheid word jaarliks deur die departement van basiese onderwys aangebied om erkenning te gee aan opvoeders wie se toewyding, vernuwende denke en leierskap ’n betekenisvolle bydrae tot die gehalte van onderrig en leer in Suid-Afrika se uitgebreide onderwysstelsel lewer. Kachelhoffer se prestasie plaas die Hoërskool Trio nasionaal in die kollig en beklemtoon die belangrike rol wat doeltreffende leierskap in die sukses en ontwikkeling van skole speel.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook Donderdag die gaste op die 26ste nasionale onderwyserstoekenningsgeleentheid toegespreek.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article