Skitter-erkenning vir wiskundehoof van Girls’ High in Kimberley

Ruann Blignault, departementshoof van wiskunde by Kimberley Girls’ High in Kimberley.
Ruann Blignault FOTO: Verskaf

Skitter-erkenning vir wiskundehoof van Girls’ High in Kimberley


Ruann Blignault, departementshoof van wiskunde aan Kimberley Girls’ High in Kimberley sal aan die einde van die maand hoor of hy die top-wiskundeonderwyser in die provinsie is wat aan die departement van basiese onderwys se jaarlikse Nasionale Onderwysers-kompetisie (NTAs) teen ander onderwysers in die afdeling vir wiskunde-onderwys sal deelneem.

Dié vlagskip-onderwyserserkenningsprogram is reeds in sy 26ste jaar en word gehou in die aanloop na Wêreldonderwysersdag op 5 Oktober.

Die program vereer toegewyde opvoeders oor verskeie afdelings heen, insluitend ‘n spesiale afdeling waar die publiek en leerders benoemings kan doen.

Safiya Stanfley, skoolhoof, sê hulle is uiters trots op Blignault.

“Ons fantastiese matriekuitslae wys hoe goed hy is om die vakkennis aan leerders oor te dra. Ons is nie verniet aangewys as die provinsie se beste skool vir wiskundeonderrig nie. Jiawen Huang, ons oudleerder, is verlede jaar ook as die topmatriekleerder in die Noord-Kaap aangewys.”

LEES OOK: Northern Cape’s top matric achiever triumphs over language barriers

Talent met dissipline en konstante oefening geslyp

Blignault is ‘n toegewyde en ervare wiskunde-onderwyser wat wiskunde en fisika sedert 2001 aanbied. Hy is onlangs aangestel is as ‘n nasionale eksaminator vir wiskunde en is sedert 2024 hoofnasiener vir vraestel 1 in die provinsie.

Wiskunde is nie vir elke leerder ’n plesier nie, gee hy toe; net soos nie elke mens kan sing en nootvas is nie.

Sy fokus is op talent.

“Dis belangrik vir mense om hul talente te identifiseer en daarop te fokus. My benadering om leerders goed toe te rus, berus daarop om streng te fokus op dissipline en konstante oefening, veral vir gr. 10-, gr. 11- en gr. 12-leerders. Hulle moet wiskundekonsepte werklik verstaan en die praktiese toepassings van wiskunde insien, eerder as om net formules te memoriseer,” verduidelik Blignault.

“Ek gebruik tegnologie, soos ‘n slimbord en sagteware, om abstrakte konsepte, grafieke en die verband met algebraïese vergelykings visueel te verduidelik.”

LEES OOK: Kimberley Girls’ High School celebrates academic success as top school in Northern Cape

Hy is al meer as ’n dekade verbonde aan die Optima-mentorskapprogram.

“Ek is deel van ‘n mentorskapsprogram vir gegradueerde studente, waarin ek hulle praktiese aspekte van onderwys, soos die gebruik van tegnologie, ouerkommunikasie en die effektiewe aanbieding van die sillabus, aanleer. Een van my intern-studente is nou ‘n wiskundeonderwyser by ons skool.”

Hy was ook betrokke by die Optima Math Challenge-program, wat daarop gemik is om die gehalte van wiskunde-onderrig vir swart studente te verbeter.

Blignault is een die vyf distriksfinaliste van die afdeling vir uitstekende onderwvs in verdere onderwys en opleiding-wiskunde. Hy berei hom nou voor vir die provinsiale eindronde, wat insluit ‘n aanbieding oor sy onderrigmetodes, tegnologiegebruik, mentorskaprol en betrokkenheid by die Optima Math Challenge-program.

Openbare beeld van die onderwysberoep bevorder

Die doel van die nasionale kompetisie is om uitnemendheid, kreatiwiteit en doeltreffende onderrigprestasie in Suid-Afrikaanse skole te vereer, te bevorder en te erken. Gekeurde onderwysers sal plaaslik, op die kontinent en internasionaal geleenthede gegee word om op platforms soos die Global Teacher Prize deel te neem.

Die afdelings wissel van gr. R- en laer-, asook hoërskoolonderrig, tot gespesialiseerde terreine soos inklusiewe onderwysonderrig en leierskap.

Luidens die departement se webwerf fokus die kompetisie ook die publiek se aandag op die positiewe aspekte van basiese onderwys om die openbare beeld van die onderwysberoep te bevorder.

Deur uitnemendheid in onderrigprestasie te erken en te ondersteun, word toegewyde, kreatiewe en doeltreffende onderwysers én skole vereer, terwyl die toepassing van beste praktyke oor die onderwyssektor heen aangemoedig word.

Besonderse klem word geplaas op veldtogte wat leerstruikelblokke uit die weg ruim en veerkragtigheid bou, veral onder benadeelde groepe. Daarmee saam word ‘n gunstige omgewing geskep wat volhoubare belegging in onderwys en leer stimuleer, terwyl daar aktief gestreef word na die verwesenliking van die wêreldwye volhoubare ontwikkelingsdoelwit vir gehalte-onderwys.

Die ander afdelings is onder meer: uitnemendheid in gr. R-onderrig, lewensvaardighede-onderrig (gr. 1 tot gr. 6), laerskoolonderrig, laerskoolleierskap, hoërskoolonderrig, hoërskoolleierskap, inklusiewe onderwysonderrig, inklusiewe onderwysleierskap, natuurwetenskap-onderrig, tegnologie-verrykte onderrig en leer, die Kader Asmal-eerbewys vir lewenslange bydrae en die nasionale beste onderwyser-eerbewys.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article