Die Caritas Gemeenskapsfokus-gemeenskap in die Noord-Kaap sê hy betreur die afsterwe van Ds. Keydy O’Callaghan, uitvoerende direkteur, wat onthou word as ’n uitsonderlike leier wat diep spore in die lewe van duisende getrap het.
O’Callaghan, wat op 20 Desember 1960 gebore is, het in Februarie 2021 by Caritas aangesluit. Hoewel hy as uitvoerende direkteur gedien het, “was hy veel meer as net ’n administratiewe hoof; hy was ’n dominee, berader en mentor wat geglo het dat mense belangriker is as posisies, titels en strukture”, lui hul verklaring.
“In sy lewe het O’Callaghan dikwels die beeld van ’n kameeldoringboom gebruik om sy roeping te beskryf, ’n boom wat skadu, voedsel en skuiling bied aan diegene wat dit nodig het. Kollegas en vriende beskryf hom as iemand wat hierdie beeld uitgeleef het deur ’n veilige hawe te bied vir mense wat seergekry het of verdwaal het.”
LEES OOK: Caritas Gemeenskapsfokus bied vaste grondslag vir kinders, gesinne
As berader was hy bekend vir sy vermoë om “met sy hart te luister”. Hy het geglo dat gebroke mense nie oordeel nodig het nie, maar iemand wat bereid is om langs hulle te sit en werklik te hoor wat in hul harte omgaan. Hy het verstaan dat daar dikwels groot seer agter woede of stilte skuil.
Sy nalatenskap word nie in syfers of jaarverslae gemeet nie, maar in die mense wat weer hoop gevind het deur sy tussenkoms. Hy word onthou as “sout van die aarde”, iemand wat nederig en eg was, met ’n besondere insig in die menslike hart en al sy broosheid.
“Die stilte wat ’n mens soos Keydy agterlaat, is groot, juis omdat sy teenwoordigheid vir soveel mense iets beteken het,” lui die huldeblyk aan hom. Hy het mense laat voel hulle word gesien, gehoor en verstaan.
Ds. O’Callaghan word oorleef deur sy vrou en drie seuns. Sy nagedagtenis sal voortleef in die talle lewens waarin hy “hoop geplant het”.





