Die voetspore wat die 45-jarige Bernard Gerber van Kimberley getrap het, sal nie vinnig uitgevee word nie. Uit verskeie oorde word die impak en die positiewe verskil wat hy in die gemeenskap gemaak het, uitgespreek.
Gerber se liggaam is Saterdag omstreeks 11:35 in ‘n buitekamer by sy huis in Royldene aangetref nadat hy sedert Donderdag 9 Julie vermis was. Hy het glo dié oggend laat weet dat hy op pad is na Douglas, waar hy nooit opgedaag het nie.

‘n Soektog na hom is begin en die polisie het die publiek gevra om inligting deur te gee indien hy of sy voertuig, ‘n wit Ford Wildtrak-bakkie met registrasienommer EPoch 2 NC, opgemerk word.
Sy bakkie is Saterdag by die perseel van Pirates-klub in Jacobus Smitlaan in Royldene gevind. Verdere leidrade is opgevolg en Gerber se liggaam is later die dag in die buitekamer by sy huis gevind. Geen misdaad word vermoed nie.
‘Reus met ‘n sagte hart’
Christo Botma, ‘n jarelange vriend van Gerber, beskryf hom as ‘n goeie mens wat baie betrokke in die gemeenskap was, en op talle komitees gedien het. Gerber was vir ‘n aantal jare lid van die Steelwings Motorcycle Club, ‘n motorfietsklub vir eienaars van Harley Davidsons waarvan Botma steeds lid is.
Gerber, wat aan die Hoërskool Diamantveld matrikuleer het, was ook vir jare by Monate Eggs – beter bekend as Epoch Poultry – betrokke.
In ‘n huldeblyk skryf Diamantveld dat Gerber se passie, toewyding en liefde vir die skool altyd onthou sal word. Hy was ook ‘n hokkieafrigter by die skool.
Anja Theron Faber beskryf hom as ‘n reus met ‘n sagte hart. David Scribante bedank hom vir sy passie vir die skool en hokkie. “Jy het ‘n verskil gemaak,” skryf hy. Cindy en Barnie Meyer skryf: “Jou impak was GROOT in elkeen se lewe.” Jaco Smit skryf: “Sal Bernard altyd onthou wat altyd ‘n vriendelike woord gehad het vir almal.”

In ‘n huldeblyk skryf die Laerskool Eureka: “Jou omgee, vriendelikheid en die verskil wat jy in soveel lewens gemaak het, sal vir altyd in ons harte voortleef. Ons eer vandag jou lewe, die herinneringe wat jy agterlaat en die nalatenskap van omgee wat altyd deel van Eureka sal bly.”
Chrisselda Meyer Esterhuizen, ‘n lid van Steelwings, skryf: “Rus sag, Bernard ‘Bazz’ Gerber. Die lewe het soms ‘n manier om ongelooflik swaar te raak. Vandag onthou ons jou vir die vriend wat jy was, die lag wat jy gebring het en die herinneringe wat jy agterlaat.”
Ruhan Stokkies Swanepoel skryf Gerber was altyd vriendelik en bly om ‘n mens te sien. en was altyd so opreg wanneer hy jou groet. “Jy sal verseker gemis word jy was altyd oral in Kimberley.”
Gerber laat sy vrou Lizette en twee skoolgaande kinders – een by Eureka en een by Diamantveld – agter.
LEES OOK: Laaste personeellid van Laerskool Kathu uit hospitaal ontslaan ná busongeluk





You must be logged in to post a comment.