Die Thembelihle-munisipaliteit en die gemeenskap van Hopetown is in rou gedompel ná die skielike afsterwe van raadslid Paul van Niekerk.
Nuus van Van Niekerk, die VF Plus-raadslid vir wyk 6, se afsterwe is op 11 Julie bekend gemaak.
Die munisipaliteit het in ‘n amptelike verklaring hul diepe hartseer uitgespreek en hul innige meegevoel aan sy familie, vriende en geliefdes betuig. Volgens die munisipaliteit het Van Niekerk se leierskap, toewyding en passie vir plaaslike regering ‘n blywende impak op sowel die raad as die breër gemeenskap gelaat.

Dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier van die VF Plus, huldig Van Niekerk vir sy onbaatsugtige diens.
“Voordat hy as raadslid verkies is, het hy reeds ‘n belangrike rol in die Hopetown-inwonersforum gespeel om die verval van dienste in die dorp teen te werk. In 2021 het hy geskiedenis gemaak deur die VF Plus se enigste wyk in die Noord-Kaap te wen.
“Paul van Niekerk was ‘n boer, vervoerkontrakteur, raadslid en aktivis. Die skerp manier waarop hy onreg aangespreek het, was onkonvensioneel, maar verbasend doeltreffend.
“Sy werk om gebrek aan munisipale dienste op te vang, het nie geëindig waar hy baie stemme getrek het nie. Vir hom was die vraag nooit of sy werk stemme in die sak sal bring nie, bloot of dit die lewe vir mense beter sou maak,” sê Boshoff.
Altyd gehelp waar hy kon
Op Facebook het vele mense hul droefheid oor Van Niekerk se dood uitgespreek.
Een persoon sê benewens sy werk in die politiek, was Van Niekerk ‘n boer in murg en been. Hy was wyd op sosiale media bekend vir sy TikTok-video’s as Boer Paul van Niekerk.

Elizma Oosthuizen skryf Van Niekerk was ‘n man wat duisende kilometers afgelê het, nie net agter die stuur en onder plaasstof nie, maar ook deur mense se lewe. Altyd reguit, altyd eerlik en nooit bang om op te staan vir wat reg was nie.
“Jou hande het vir niks verkeerd gestaan nie, en jou hart was groot genoeg om altyd te help waar jy kon. Jy het mense laat lag met jou stukkie soet-stout humor en vriende gemaak waar jy ook al gegaan het. Boer was in jou bloed, jou hart en jou siel, al het die paaie jou dikwels ver van die plaas af geneem. Die grond, die mense en die lewe daar buite was deel van wie jy was.
“Die groot boom het skielik geval, maar die spore wat hy agterlaat, op die paaie, op die plaas, in die gemeenskap en in mense se harte, sal lank bly leef.”
Die Thembelihle-munisipaliteit sê besonderhede rakende die begrafnisreëlings sal gekommunikeer word sodra die oorlegpleging met die familie afgehandel is.
Die gemeenskap is gevra om die familie in hul gebede te hou gedurende “hierdie moeilike” tyd.
‘Hy het Hopetown geleef’
Op die Facebook-blad Hopetown Skou is die volgende plasing gemaak:
“Sommige mense laat ‘n merk. Ander laat ‘n nalatenskap.
“Paul van Niekerk was een van daardie mense. Hy het nie net in Hopetown gewoon nie – hy het vir Hopetown geleef. Met ‘n oop hart, harde werk en onwrikbare liefde vir ons dorp het hy homself keer op keer gegee, sonder om iets terug te verwag.

“Hy was een van die dryfkragte agter ons Kwêla Dorp van die Jaar-veldtog. Hy het geglo dat Hopetown verdien om raakgesien te word. Hy het geglo in ons mense, ons gemeenskap en ons toekoms.
“Vandag is hy nie meer hier om saam met ons die eindstreep te haal nie. Maar ons is.
“Kom ons voltooi waarvoor hy so hard gewerk het. Kom ons gee vir Paul die huldeblyk wat geen woorde ooit sal kan beskryf nie. Kom ons wys dat sy liefde vir Hopetown nie verniet was nie.
“As elkeen van ons net ‘n paar SMS’e stuur, kan ons sy droom help verwesenlik.”
LEES OOK: ‘Halfhartige polisie-optrede’ keer nie plundering van vragmotor in Hopetown





You must be logged in to post a comment.