Met ‘n hart vir kinders, ‘n liefde vir sport en meer as 14 jaar se onderwyservaring staan Jaco Viljoen gereed om die leisels as skoolhoof by Trio Primêr in Kroonstad oor te neem.
Viljoen het in Heilbron grootgeword en sy skoolloopbaan daar voltooi. Sy akademiese pad het hom aanvanklik na die Vrystaat-technikon geneem, waar hy bestuurswese en bedryfsadministrasie studeer het. Hy het daarna sy studie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) voortgesit en ‘n nagraadse onderwyssertifikaat vir die intermediêre en senior fase verwerf.
Sedert Mei 2012 is hy deel van die Kroonstadse onderwysgemeenskap en die afgelope drie jaar is hy by Trio betrokke.
“Ek het nog altyd ‘n passie vir kinders en vir sport gehad. Dit was dus vir my ‘n logiese keuse om die onderwysrigting te volg,” sê hy.
Dit is juis die geleentheid om positief tot jongmense se lewe by te dra, wat volgens hom die beroep so besonders maak.
“Dit is nie net kennis wat jy met kinders deel nie; jy help ‘n verskil in elkeen se lewe maak.”
LEES OOK: Hoërskool Witteberg stel nuwe hoof en adjunkhoof aan
Met sy aanstelling as hoof sê Viljoen hy is opgewonde en dankbaar vir die vertroue wat in hom gestel is. Hy besef die nuwe pos bring groot verantwoordelikheid mee, maar sien dit terselfdertyd as ‘n geleentheid om saam met die skoolgemeenskap aan ‘n toekoms te bou.
Viljoen se droom vir die skool is om Trio Primêr verder uit te bou as ‘n skool waar akademie, sport en kultuur op ‘n hoë standaard gehandhaaf word en kinders die ruimte kry om hul volle potensiaal te bereik. Die betrokkenheid van die skoolgemeenskap en die breë gemeenskap van Kroonstad sal volgens hom van kardinale belang wees om dié visie te verwesenlik.
Hy meen samewerking, respek en harde werk lê die grondslag waarop die toekoms gebou word.
Die nuwe hoof se eerste dag aan die stuur sal op Dinsdag 1 September aanbreek. Daarmee begin Viljoen en die skoolgemeenskap ‘n nuwe hoofstuk wat hy met vertroue, energie en ‘n duidelike visie tegemoet gaan.





