BETHLEHEM – Vier leerders aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem het hul staal in die Shoto-karate-kampioenskap getoon en met ‘n rits medaljes van die byeenkoms in Bloemfontein teruggekeer.
Die kompetisie is op 7 en 8 Augustus aangebied en karatekas van verskeie skole en klubs is die geleentheid gebied om hul tegniese vaardighede, dissipline en deursettingsvermoë teen verskeie sterk mededingers te meet.
Die karatekas van Witteberg het geskitter.
Paseka Montsitsi het ‘n silwermedalje in kata verwerf en sy deelname in kumite is met ‘n goue medalje bekroon.
Nické Wächter het ‘n goeie kampioenskap beleef en goud in kadet kata, junior kata, span-kata en junior super kata verwerf.
Hanré Dreyer het eweneens sterk gevaar en brons in junior kata, silwer in junior kumite en junior super kata, asook goud in senior super kata en span-kata ontvang.
Janko Leslie het silwer in kadet kata en junior kata verwerf en was ook deel van die span wat goud in span-kata verower het.




