Oktober is internasionaal bekend as borskankerbewusmakingsmaand, maar vir die Northern Free State Caregivers (NFSCG) in Kroonstad beteken die maand veel meer as net pienk strikkies.
Die organisasie bied deur die jaar praktiese, emosionele en maatskaplike ondersteuning aan borskankerpasiënte en hul gesinne wat dikwels met ’n moeilike en onbekende pad na ’n diagnose gekonfronteer word.
Wollie van Schalkwyk, die organisasie se borskankerkoördineerder, ontvang verwysings van pasiënte self, asook van familie en geliefdes. Sy reël daarna ’n tuis- of hospitaalbesoek waartydens sy met die pasiënt kennis maak en verduidelik watter ondersteuning NFSCG beskikbaar stel.
Elke nuwe pasiënt ontvang tydens dié besoek ’n spesiale geskenksak met praktiese hulpmiddels en inligting. Dit sluit volledige inligting oor borskanker, ’n stresballetjie vir hand- en armoefeninge ná ’n mastektomie, ’n gebreide Omgee Poppie, ’n klein kussing vir die oksel waar limfkliere verwyder is, ’n gebreide of sagte opgestopte prostese en ’n gehekelde trooskombersie in. Die ondersteuning strek egter veel verder as die geskenksak.
Wanneer onkoloë van Bloemfontein besoek aflê, word ’n ondersteuningsgroep ook aangebied waar pasiënte raad, ondersteuning en bemoediging ontvang. Vrywilligers wat self die pad van borskanker gestap het, deel hul ervaring met vroue wat pas gediagnoseer is of reeds met behandeling begin het. Die organisasie se gratis ondersteuning sluit onder meer tuisversorging, gereelde tuisbesoeke en hulp met inkopies in. Die organisasie help ook met die afhaal van voorskrifte by dokters en apteke en die aflewering van medikasie by pasiënte se huise.
Pasiënte kan ook van geleende pruike en mediese toerusting gebruik maak, waaronder looprame, rolstoele, kommode-stoele en hospitaalbeddens.
Daar word verder hulp gebied met die versorging van brandwonde wat ná bestraling ontstaan, advies oor begrafnisdienste, palliatiewe versorging en weeklikse voorbereiding van medikasie.
Vir pasiënte wat vir behandeling na Welkom, Bloemfontein, Klerksdorp of ander groter sentra moet reis, kan die organisasie ook met brandstof help.
Berading vorm ’n belangrike deel van die ondersteuning, terwyl gesinne ook opgelei word oor die pasiënt se behoeftes, moontlike newe-effekte van chemoterapie en pynbeheer.
In gevalle waar ’n pasiënt uiters behoeftig is, word daar na die spesifieke omstandighede gekyk en waar moontlik met buitengewone behoeftes gehelp, soos verblyf in Bloemfontein tydens behandeling.
As deel van NFSCG se bydrae tot Internasionale borskankerbewusmaking word gratis borsondersoeke weer aangebied.
Die kliniek vind oor twee dae plaas, van 09:00 tot 16:00 op Maandag 19 Oktober en Dinsdag 20 Oktober by die organisasie se Naudè-saal in Turnerstraat, Kroonheuwel, Kroonstad.
Afsprake is verpligtend en kan by Felicity Combrinck, stigter van die organisasie, by 084 206 8912 gemaak word. Die ondersoeke word deur die verpleegkundiges Miemie Claassen en Retha Kroukamp gedoen. Elke vrou wat die ondersoek ondergaan, ontvang ook ’n gratis pienk strikkie.
“Dit is nie maklik om te hoor dat jy borskanker het nie. Ons bid vir elke borskankerpasiënt wat pas gediagnoseer is, behandeling ontvang of in remissie is, asook vir families wat oor die heengaan van ’n geliefde treur,” sê Combrink.
Vroue word aangemoedig om nie te wag voordat hulle ’n ondersoek laat doen nie, aangesien die besprekingslys reeds oop is. Vir meer inligting oor NFSCG se ondersteuning kan Van Schalkwyk by 076 044 1686 of Combrinck by 084 206 8912 geskakel word.



