Die beertjie-projek van die Solidariteit Helpende Hand se Vrystaat-streek vorm deel van die emosionele reguleringsprojek van die organisasie. Die organisasie het ‘n besonderse mylpaal behaal met die beertjie-projek toe 383 beertjies gebrei is om troos aan mense te bring.
Die hoofdoel hiervan is om aan kinders en volwassenes wat deur trauma, verlies of emosionele nood gaan, te help en troos te bied. Die beertjies is ook simboliese boodskappers van hoop, waarde en omgee.
Toe die Hoeksteen-gemeente in Bethlehem van die projek hoor het gemeentelede en vrywilligers dadelik ingespring om te help brei.
Onderleiding van Petro Rautenbach het sowat 30 vrywilligers en gemeentelede tussen die ouderdomme van 17 tot 82 jaar saamgespan om beertjies te brei.
Rautenbach sê die oorspronklike doelwit om 100 beertjies te brei is met ’n verstommende 383 unieke handgemaakte beertjies oortref.

Die plaaslike gemeenskap asook Ons Winkel Bethlehem het wol vir die projek geskenk.
Die beertjies is onlangs by die gemeente uitgestal sodat die publiek die unieke projek kon aanskou. Elke beertjie het sy eie kleur, karakter en ’n Bybelvers wat sorgvuldig deur Anso van Rooyen, eienaar van Ons Winkel Bethlehem, geborduur is.
Soreta Potgieter, een van die projekorganiseerders, het die Bybelverse vasgewerk en in die proses vir elke toekomstige ontvanger gebid.
“Sommige van die beertjies het nie monde nie, en dit het my laat dink aan mense, kinders en volwassenes, wat nie ’n stem het nie. Selfs in stilte herinner God ons dat ons waardevol is,” sê sy.
Die projek spruit uit Solidariteit Helpende Hand se breinaald-projek, wat oor die land heen mense aanmoedig om hul brei- en hekelvaardighede vir ’n groter doel aan te wend. Breiers veral bejaardes, brei komberse, serpies, sokkies en ander artikels vir behoeftige mense in hul gemeenskappe.
Deur die loop van Augustus sal die beertjies wat deur die Bethlehem vroue gebrei is hul nuwe tuistes begin vind. Vir meer inligting oor die projek besoek vrystaathand.co.za.






You must be logged in to post a comment.