Lede van die Stad Kaapstad se Metro-polisie en wetstoepassingbeamptes, sowel as die polisie, plaaslike private sekerheidsmaatskappye en buurtwagte het Maandag tydens ‘n wilde jaagtog deur Plattekloof-, Bosmansdam- en Giel Basson-rylaan ‘n groep vermeende kabeldiewe agternagesit.
Die jaagtog het hulle gelei na ‘n oop veld langs Giel Basson-rylaan waarheen die groep glo ontsnap het. Die paaie rondom die gebied is deur onder andere lede van die PWP-buurtwag (Plattekloof, Welgelegen, Panorama en Kleinbosch) versper.
Mario Borchards, voorsitter van die Bothasig-polisiëringsforum (GPF), sê lede van hul Community in Blue-inisiatief was op die toneel.
Die GPF sê hulle is ingelig oor ‘n beweerde skietvoorval langs Giel Basson-rylaan. Volgens hul inligting is daar glo op sekuriteitspersoneel van Eskom geskiet. Die polisie, wetstoepassing, gewapende reaksiespanne, en gemeenskapstrukture het gereageer op die noodoproep en twee verdagtes wat glo elektrisiteitskabels wou steel, is aangekeer.
Reaksie geloof
Die GPF het die polisie geprys vir hul spoedige optrede en het inwoners daaraan herinner om verdagte aktiwiteite onmiddellik aan te meld.
Die verdagtes is na die Parow-polisiekantoor geneem, sê Borchards.
Kol. Deirdré Engelbrecht, bevelvoerder, het bevestig dat die verdagtes glo probeer het om kabels te steel, en dat die polisie en wetstoepassingbeamptes hulle agternagesit het.
Borchards sê die verdagtes is deur lede van die Bothasig-polisiekantoor aangekeer.
TygerBurger het die Wes-Kaapse-polisiekantoor en Stad Kaapstad genader om verdere kommentaar, maar het teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.
LEES OOK: Man wat glo vervalste dokumente in Brooklyn verkoop in hegtenis geneem





