Wanneer jy hier lees, is ons op die vooraand van een van die grootste rugby-gebeurtenisse in die geskiedenis van die land. Dalk selfs die wêreld.
Die All Blacks uit Nieu-Seeland is hier op hul eerste volwaardige toer in 30 jaar. Die toer staan bekend as The Greatest Rivalry, want nie net is die Springbokke en die All Blacks mekaar se grootste teenstanders nie, maar hulle is ook al jare lank die leiers in rugby.
Dertig jaar gelede het die All Blacks Suid-Afrika toe gekom en die eerste keer in die geskiedenis ‘n reeks hier gewen. Vanjaar gaan hulle weer probeer in die vier toetse — drie in Suid-Afrika en een in Amerika.
Bekgevegte
Maar dis nie sodanig oor die rugby wat ek wil praat nie, maar wel oor die bekgevegte tussen ondersteuners wat reeds op sosiale media woed. Die gevegte woed nie tussen regte Nieu-Seelanders en Suid-Afrikaners, maar wel tussen Bok-ondersteuners en Suid-Afrikaners wat die All Blacks ondersteun.
Hierdie is nie ‘n nuwe situasie nie, want histories het bruin en swart mense die All Blacks ondersteun om hul weersin in apartheid te wys. Onder daardie verwerplike bestel kon slegs wit spelers vir die Bokke speel en daarom was die situasie algemeen aanvaarbaar. Met die nuwe bestel kon bruin en swart spelers teoreties vir die Bokke speel, maar baie mense in rugby het dit so moeilik as moontlik vir spelers van kleur gemaak om gekies te word. Daaroor dalk later meer.
Met die koms van Rassie Erasmus, blyk dit, het dit makliker geword vir enigeen om vir die Bokke gekies te word en met Siya Kolisi die eerste swart kaptein, is nuwe ondersteuners ook na die spel gelok. Wie kan ontken dat spelers soos Cheslin Kolbe en Ox Nche die beste in die wêreld is?
Selfs hierdie verwikkeling kon nie Saffa-ondersteuners van die All Blacks oorreed om vir die Bokke te skree nie. Daarmee het ek vrede, want sommige families ondersteun al deur verskillende generasies die All Blacks. Waarmee ek wel ‘n probleem het, is die venyn waarmee daar met mekaar verskil word.
Dis rof
Die internet is oor die algemeen nie ‘n plek vir rasionele debatvoering nie, maar wanneer daar oor rugby tussen die Springbokke en die All Blacks gepraat word, raak dit ‘n mooi gemors. Mense wat mekaar van geen kant af ken nie, vloek mekaar uit. Dis rof.
En iewers onder al die rommel van ‘n gebrek aan internet-etiket lê die wonderlike sport, rugby.
Ek het gehoor sokker is ons nasionale sport, maar ek weet vir ‘n feit dat rugby die nasionale gemoed bepaal. Wen die Bokke, is almal gelukkig — van die kassier by die winkel tot die petroljoggie. Verloor hulle, kan ‘n mens amper hoor hoe inflasie styg en alles duurder word.
Alles is nie wel in ons land nie, maar wanneer die Springbokke wen, dan vergeet ons bietjie van wat rondom ons aangaan.
Dit bring my by die punt wat ek eintlik wil maak: kom ons gebruik hierdie toer om mekaar beter te verstaan. Rugby is so ‘n lekker sport en is ‘n katalisator vir baie mooi dinge. Wanneer rugby-ondersteuners, van verskillende spanne, goedig met mekaar spot, maak dit die spel nog lekkerder, maar wanneer hulle mekaar begin vloek en beledig, doen dit afbreuk aan die spel en die vrede wat dit kan bring.
As jy nie die Bokke wil ondersteun nie, is dit jou goeie reg, al is dit jammer.
LEES OOK: RUBRIEK | As almal nie kan werk nie, gaan ons ‘verlore generasie’ kry




