RUBRIEK | As almal nie kan werk nie, gaan ons ‘verlore generasie’ kry

Brenden Ruiter
Brenden Ruiter

RUBRIEK | As almal nie kan werk nie, gaan ons ‘verlore generasie’ kry


Onlangs ry ek kantoor toe en toe ek by ‘n verskeerslig stilhou, stap ‘n jongman oor die pad. Ek haat dit wanneer mense nie vinnig ‘n pad kruis nie, maar die ou stap flink en fier.

Ek is die voorste motor by die verkeerslig en hy kom knap voor my verbygestap. In sy hand dra hy ‘n deursigtige plastieksak. Net voor die verkeerslig groen word, kry ek ‘n vinnige blik op wat in die sak is: ‘n kraakvars blou oorpak en nuwe veiligheidstewels. “Die kêrel het werk gekry!” dink ek by myself, bly vir iemand wat ek van geen kant af ken nie.

Vul die “blanks” in

Die ligte raak groen en ek ry weg en doen wat ek altyd doen om my brein besig te hou — ek vul die “blanks” van die jongman se lewe in. Ek vertel vir myself hy het drie jaar gelede matriek geslaag en is die eerste een uit sy uitgebreide familie wat dit vermag. Daar was nie geld om te studeer nie, want hy kom uit ‘n enkelouer-huishouding met sy ma wat alles in haar vermoë doen om die nate van hul lewens aan mekaar te hou. Die wolwe was pal by die deur en die aasvoëls het bo die dak gesirkel.

Hy het al alles denkbaar probeer, maak ek myself wys, om saam met miljoene ander om beperkte werksgeleenthede mee te ding. En sy beurt het gekom.

Ek was jare laas werkloos, dank die Vader, maar ek onthou hoe dit voel om nie te werk nie as jy reeds jou eie salaris verdien het. Dit voel asof almal neersien op jou. Wanneer jy werkloos is, werk mense se simpatie ook op jou senuwees.

Wat ookal hierdie jongman se pad tot hier behels het, ek is bly hy kon darem geholpe raak en die gebed van my hart is dat hy die werk sal waardeer, en groei en baie sukses smaak.

Nie skande om arm te wees nie

Een van die ou ooms in ons kerk het op ‘n keer gesê dis nie ‘n skande om arm te wees nie, net ‘n bietjie ongerieflik. En as ek sien hoe mense wat minder as ek het, sukkel, breek my hart vir hulle.

Om die waarheid te sê, die meeste werkende mense in die land sukkel om kop bo water te hou in hierdie ekonomie, waar alles duurder is en waar dit lyk of daar geen uitkoms op die horison is nie. Hoeveel te meer sukkel diegene wat nie werk het nie, en ook nie binnekort iets gaan kry nie?

Ek het al baie die uitdrukking “verlore generasie” gehoor, maar ek vrees regtig dat daar in die toekoms volwassenes gaan wees wat nooit weet hoe dit voel om formeel in diens te wees nie.

Of nie die dissipline het om met geld te werk nie, want hul voorgangers het nooit geld gehad nie en daarom weet hulle wat dit is om iets te besit nie.

Hier op ons voorstoep is jongmense wat misdaad as die enigste uitweg sien, omdat diegene wat die meeste geld in hul gemeenskappe het, misdadigers is. Hoe gaan ons daardie vlaag van misdaad stop?

Die slim mense sê dis sosio-ekonomiese probleme wat tieners na misdaad dryf, maar daardie omstandighede word gevoed deur chroniese werk- en hopeloosheid.

Bly vir hom

Ek wens ek het stilgehou om daai jongman te vra waar hy werk gekry het en hom vertel hoe ek daaroor voel, maar ek is nogtans bly dat hy ‘n oorpak en ‘n paar stewels kon kry.

En mag hy dit met vrug en trots dra, want die Here weet, daar is miljoene ander wat bid en hoop en skree om dieselfde geleentheid te kry — in ‘n land wat sukkel om vir sy kinders vrugtevolle geleenthede te skep.

LEES OOK: RUBRIEK | Wat die hart van vol is: Hoe het ons in hierdie land beland?

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article