“Die kerk staan nie op mense se skouers nie, maar op God se trou — van geslag tot geslag. Vir 200 jaar al,” het ‘n oudpredikant, ds. Gawie Gouws, gesê met die 200ste bestaansjaarvieringe van die NG kerk Durbanville.
“Nalatenskap is net moontlik as ‘n mens staatmaak op die trou van God,” het ds. Marinus Theron, moderator van die Sinode: Wes-Kaapland, daarby aangesluit toe hy die gemeente gelukgewens het namens die Sinode Wes-Kaapland.
Die kerk (bekend as die Durbanville-Moedergemeente) het die afgelope naweek sy bestaansjaar luisterryk met ‘n feesnaweek gevier.Op Saterdag 1 Augustus is ‘n gedenkboek oor die kerk, Durbanville Gemeente 1826 – 2026 deur die skrywer Andrew Kok, in ‘n stampvol kerk bekendgestel, asook ‘n feesvideo van die feesjaar se hoogtepunte.

Die radio-omroeper Lizelle de Bruin van Wordwise Media, wat die feesvideo gemaak het, het ‘n gesprek gevoer met Kok oor die kerk se hoogtepunte in die boek, en hy met haar oor die maak van die video.

Huidige en oudpredikante het almal ‘n kopie van die feesboek ontvang.
Sanguitvoerings
Op Sondag 2 Augustus tydens die erediens is die feesvieringe hervat met sanguitvoerings deur Zanne Stapelberg-De Lange, asook dr. Leonard Heydenrych (fluit) en Suretha Theron (klarinet), onder begeleiding van die kerk se orrelis, Devandré Boonzaaier. Die kerkkoor, asook die Cape Winelands-koor, het ook opgetree.

Dr. Ockert Meyer, ‘n oudpredikant, tans van Australië, het uit Psalm 90 gepreek.
‘n Feeslied, “U is goed” , wat spesiaal vir die feesjaar geskryf is, is ook deur die kerk se musiekgroep uitgevoer.

Talle ander feesvieringe het reeds vanjaar plaasgevind, onder meer ‘n langtafelete op die kerkperseel.
Die kerk se amptelike verjaarsdag op Donderdag 6 Augustus word gevier met ‘n boomplant om 10:00 op die kerkperseel.
Groot bedieningsgebied
Die kerk, waarvan minstens nege NG kerke uit die noordelike voorstede oor die jare afgestig het, het sy ontstaan op 23 September 1824 gehad.
Elf boere van die Koeberg het ‘n versoekskrif aan Goewerneur Lord Charles Somerset gerig vir die oprig van ‘n eie kerk.

Toestemming vir die Tygerbergse gemeente is gegee en op 1 April 1825 is die hoeksteen van die kerkgebou gelê. Die kerk is op 6 Augustus 1826 amptelik ingewy.
Al die plase in die Tygerberg, Koeberg, Blouberg en De Kuilen het binne die grense van dié Tygerbergse gemeente geval.
Dit was ‘n groot bedieningsgebied met sy noordelike grens by Klipheuwel, Oortmanspoort, Boterberg, Driefontein, Haarmeyerskraal en Buffelsrivier.

Die suidelike grens met Kaapstad was vanaf die Zoutriviermond in ‘n reguit lyn tot by Vergenoegd, aan die Eersterivier, Stellenbosch. Die westelike grens was die kus en het Blaauwberg, Rietvlei, Rozendal en Seven Pannetjies ingesluit.
Die oostelike grens was met Stellenbosch en Paarl distrikte langs die hardepad van Malmesbury na Stellenbosch.
In die eerste 100 jaar van die kerk se bestaan was daar net vier predikante.

Die kerk se eerste klok is in 1903 aan die Kuilsrivier-gemeente geskenk toe die kerk afgestig het, nadat ‘n nuwe klok geskenks is. Die huidige kloktoring is in 1968 gebou.
Dogtergemeentes
Oor tyd het die gemeente egter al hoe kleiner geword namate woonbuurte begin ontwikkel het en dogtergemeentes gestig is. Die volgende gemeentes in die noordelike voorstede het van Durbanville afgestig: Philidelphia (1863), Kuilsrivier (1903); Parow-Goodwood (1917), Bellville (1934); Kruispad: Kraaifontein en Brackenfell (1944); Sonnekus: Milnerton (1947); Stellenberg (1971); Bergsig (1982) en Sonstraal (1987).
- Kyk die feesvideo by https://youtu.be/7OjEAXfShyg.
LEES OOK: Durbanville-moederkerk vier 200ste bestaansjaar met langtafel-ete





You must be logged in to post a comment.