Kuilsrivier-kerkkoor kraai koning by ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie

Kuilsrivier-kerkkoor
Die Kuilsrivier-kerkkoor in aksie by die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie. Foto: Gys Loubser

Die Kuilsrivier-kerkkoor het onlangs koning gekraai in die afdeling vir kerkkore by die jaarlikse ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie.

Die koorkompetisie is een van die Suidoosterfees se hoogtepunte en bring landelike en stedelike amateurkore van oor die Wes-Kaap heen bymekaar om in drie afdelings mee te ding: gemeenskapskore, tradisionele kore en kerkkore. Die beste kore neem deel aan ‘n massakoor-uitvoering in ‘n galakonsert by die fees.

Hoewel die Kuilsrivier-kerkkoor tans uit sowat 30 lede vanuit ‘n paar verskillende gemeentes in Kuilsrivier en omliggende gebiede bestaan, is dit nie sommer net ‘n saamgeflansde groep nie. Danksy die bekwame leiding van Arthur Appleby, dirigent, en Ilse Myburgh, begeleier, kom al die stemme in harmonie bymekaar.

Die Kuilsrivier-kerkkoor onder leiding van Arthur Appleby (dirigent) en Ilse Myburgh (begeleier) Foto: Gys Loubser
Die Kuilsrivier-kerkkoor onder leiding van Arthur Appleby (dirigent) en Ilse Myburgh (begeleier) in aksie by die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie. Foto: Gys Loubser

Hul deelname aan die Suidoosterfees het “toevallig” gebeur, vertel Appleby.

“Ek het ‘n WhatsApp-boodskap van iemand wat ek glad nie ken nie, ontvang waarin ons genooi is om deel te neem.”

Die koorlede was gewillig, liedere is gekies en toe met toewyding en passie ingeoefen.

Galakonsert

By die kompetisie het die koor sy suiwerste note voorgesit met sy vertolking van “Agnus Dei” en “How Great Thou Art” van Michael W. Smith en Stuart K. Hine, asook Joel Rainey se verwerking van “Joy to the World” van Isaac Whatts, maar met Afrikaanse woorde van Tom Gouws (“Lofsing die Heer”) en aangepaste begeleiding.

In die galakonsert op Sondag 3 Mei in die Kunstekaap-teater het hulle saamgesing aan twee massakoorliedere, “Ukuthula” (tradisionele Zoeloe geestelike lied, verwerk deur André van der Merwe) en “Plea for Africa” (Bokwe).

“Die deelname aan hierdie galakonsert was een van ons koor se hoogtepunte en ek glo die ervaring was vir elkeen nét positief. Die aankondiging dat ons as die wenkoor in die kerkkoor-kategorie aangewys is, was ‘n oorweldigende oomblik!” sê Appleby.

“Dit was werklik onverwags, want die ander kore teen wie ons meegeding het, was net so goed.”

Elzané Feyt, ‘n sopraan in die Kuilsrivier-kerkkoor en fondswerwer by Huis de Kuilen, sê dit was ‘n groot voorreg om hierdie ervaring saam met haar mede-koorlede en vriende te kon deel — “veral my pa wat ook in die koor sing”.

Haar liefde vir koorsang het reeds op skool begin, waar sy die vreugde van musiek ontdek het. Sy het daarna vir ‘n tyd lank by die Kuilsrivier-gemeente se kerkkoor aangesluit en twee jaar gelede by die saamgesmelte koor ingeskakel. “Koorsang is vir my ‘n passie en ‘n manier van lofprysing. Ons is bevoorreg om onder leiding van Arthur en Ilse te sing, wie se kundigheid en toewyding ‘n groot rede is waarom dit so ‘n besondere ervaring is om deel van die koor te wees,” sê Feyt.

Verwelkomend

Appleby is in 2012 as orrelis by die NG kerk Kuilsrivier aangestel, wat toe ‘n gemeentekoor van sowat 23 lede gehad het. “Ná Covid het slegs ses oorgebly, met baie van ons lede wat óf afgetree óf weggetrek het óf oorlede is, maar ons het besluit om tog maar aan te hou sing,” sê Appleby.

“Die (NG kerk) De Eike-gemeente het ook ‘n koor gehad en toe hul orrelis aftree sonder dat ‘n nuwe orrelis onmiddellik aangestel word, het ek hulle uitgenooi om ‘tydelik’ by ons aan te sluit tot tyd en wyl hul orrelispos gevul word.”

Toe Ilse Myburgh in 2022 as De Eike se orrelis aangestel is, het Appleby met haar gaan gesels. “Sy het dadelik ingestem dat die twee gemeentes se kore saamsmelt. So het die Kuilsrivier-kerkkoor ontstaan met koorlede uit die NG kerke Kuilsrivier, De Eike, Kuilsrivier-Suid en die VGK Sarepta.”

Appleby vertel daar heers ‘n wonderlike gesindheid onder die koorlede. “Oefeninge is gemaklik en ons is oneindig dankbaar vir iemand soos Ilse wat ‘n absoluut uitstekende begeleier is. Ons verwelkom enigeen, uit enige gemeente (of geen) wat ‘n liefde het vir koorsang — en natuurlik noot kan hou! — om op Maandae om 18:00 saam te kom oefen.”

Skakel die kerkkantoor by 021 903 1529 of 061 071 0542 as jy belangstel om by die koor aan te sluit.

LEES OOK: Soektog na vermiste Kuilsrivier-man in Du Toitskloof tydelik opgeskort

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article