Plaaslike skoolkore het puik gevaar in die gewilde jaarlikse ATKV-Applous-koorkompetisie en verskeie toekennings ingepalm.
Altesame 13 laerskoolkore en 25 hoërskoolkore van reg oor die land het oor vier dae van 29 Julie tot 1 Augustus in die eindronde in die Kaapstadse stadsaal hul staal gewys.
Die senior koor van die Laerskool Gene Louw in Durbanville is vanjaar as algehele wenner in die prestige-afdeling vir laerskoolkore bekroon. Dit is die 14de keer dat die koor hierdie gesogte nasionale toekenning wen sedert die kompetisie in 1978 die lig gesien het.
Hulle het ‘n punt van 92,46% (cum laude) behaal met ‘n uitdagende program onder leiding van hul koorleier, Marietjie Martinson, en begelei deur Elzeth Germishuys.
Die koor het boonop ook die toekenning vir die beste uitvoering van ‘n Afrikaanse komposisie ingepalm.

Die Laerskool Gene Louw se senior koor bestaan tans uit 104 lede tussen 9 en 13 jaar oud.
Beste uitvoerings
Dit was voorwaar ‘n aand vir Kaapstadse skole met die kore van die laerskole Durbanville en Table View onderskeidelik tweede en derde in hierdie afdeling.
In die laerskole-meriete-afdeling (Afrikaans) was die koor van die Laerskool Kenridge eerste.
Die skool se koor het ook in die afdeling twee toekennings ingepalm — die toekenning vir beste uitvoering van die voorgeskrewe werk, asook die beste uitvoering van ‘n Afrikaanse komposisie.
Die hoogtepunt van dié kompetisie was gewis die tien kore wat Saterdag tydens die vierdegala-aand in die drie hoërskool-prestige-afdelings meegeding het.
In die prestige-afdeling vir gemengde kore het DF Akademie in Bellville met die kroon weggestap.
Die Hoërskool Stellenberg se meisieskoor het die hoogste puntetelling vir die aand ontvang: 92,78%, wat vir hulle ‘n cum laude-toekenning in die sak gebring het. Hulle is hiermee ook asdie wenners in die meisieskoor-prestige-afdeling aangewys.Die Stellenberg-meisieskoor, onder leiding van André van der Merwe, is as die beste meisieskoor in die prestige-afdeling aangewys. Dit was die 23se keer dat hulle die afdeling wen.
Die seunskoor van die Hoërskool Tygerberg was die naaswenner in die meriete-afdeling vir hoërskool-seunskore.
Oudste skoolkoorkompetisie
ATKV-Applous is die oudste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika. Vanjaar het ‘n indrukwekkende 314 kore, wat meer as 22 000 hoër- en laerskoolleerders verteenwoordig, vir die kompetisie ingeskryf.
Die ATKV-Applous-span, vergesel van ‘n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, het gedurende Mei na 18 bestemmings reg oor Suid-Afrika gereis om die land se topkore te identifiseer.
LEES OOK: Kuilsrivier-kerkkoor kraai koning by ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie





You must be logged in to post a comment.