Noordkaap Bulletin

TWYFELHOEKIE | Pak môre se onsekerheid aan deur vergenoegd te wees


Daar kom tye in ‘n mens se lewe dat die angstigheid jou keel laat toetrek oor die tye wat voorlê.

Tye dat jy net nie weet hoe jy deur die volgende tydperk gaan kom nie.

Tye dat die golwe van terugslae net te gereeld voel en die berge wat jy moet oor, net te hoog.

Met oorloë elders in die wêreld tans aan die gang, brandstofpryse wat skerp gestyg het, die ekonomie wat ‘n mens uitdaag en sommer nog ‘n hele paar dinge daarmee saam, word ons weer gekonfronteer met die vraag: Hoe vorentoe?

Die antwoord is nie eenvoudig nie, en niemand kan tog al die wysheid in pag hê nie.

Daar is niemand wat die dag van môre kan voorspel nie – en menslik gesproke staan ons maar magteloos en soms radeloos.

Dit is in sulke tye dat dit help om te begin by stap een.

En dit is om dankbaar te wees oor wat jy het, in plaas daarvan om jou gedaan te maak oor wat jy nie het nie.

Ons kan ons so moeg maak met wat ons benodig, dat wat ons het soms by ons verby kan gaan.

Dit begin alles by ‘n eenvoudige lewensbeginsel: Wees vergenoegd met wat jy het, en werk daarmee.

Ons kan ons so gedaan maak oor wat ‘n ander het, wat ons nog kort, wat ons graag wil hê, dat ons die seëninge van die dag by ons kan laat verbygaan.

‘n Onsekere toekoms kan ‘n mens ingaan, deur te begin werk met wat jy het en vergenoegd te wees.

Wanneer ons nalaat om in dankbaarheid te werk met wat ons het, hou ons ons so besig met wat ons kort, dat ons die wonder van die toekoms laat verbygaan.

Jy gaan nooit op ‘n punt kom dat jy alles het wat jy wil hê nie; waar alles reg is en waar alles seker is nie.

Daarom is dit ‘n belangrike lewensbeginsel om te begin daar waar jy is, met wat jy het, so goed jy kan.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article