TWYFELHOEKIE | Natuur keer terug met lenteblomme en kleur ná verskroeiende brand

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Natuur keer terug met lenteblomme en kleur ná verskroeiende brand


Onlangs het die berg agter ons huis gebrand. Dit was winterveld met droë gras, en maklik vir ‘n brand om vinnig deur die gras te beweeg.

Hoewel dit amper ‘n skouspel genoem kan word – hoe mooi die vernietigende vlamme in die donker voortgerol het – is ‘n mens die heeltyd bewus van die skade en die vernietiging wat so ‘n brand bring.

Dit is byna, soos ‘n mens dit sien, dat jy besef daar is skade en dit wat hier gebeur is nie goed nie.

‘n Mens dink onwillekeurig aan al die velddiertjies, die skilpaaie, voëlnessies en sommer net alles.

Maar dan is die brand oor. Die dae gaan gewoon voort en vorentoe en die natuur het sy eie manier om op te staan.

Hoewel die eerste lente-reën nog nie regtig geval het nie en ‘n mens nog wag vir die groot reën om te kom, staan jy verstom oor hoe kragtig die natuur is om so ‘n krisis te oorkom.

Met swartgebrande gras oral rondom staan die natuur tog groeiend weer op.

Aan die bome, ondanks brandletsels, sit lentebloeisels. In die veld, oral veldblommetjies; ondanks gebrande gras rondom is daar vars nuwe blomme aan die uitroep ‘n nuwe seisoen is hier. In pienk en pers, in oranje en wit, geel en helderrooi. Alle vorms en alle groottes.

Tussen klippe, omring van ‘n swartgebrande omgewing, is dit asof die natuur in kleur kom uitroep: Alles is nog reg, alles sal weer reg wees. Daar sal weer blom en kleur wees.

Asof die vernietigende vuur nie die groei kan terughou nie.

Dit kon seermaak, verwoes en lelik maak, maar dit kon nie die groei wat daar lê, wegvat nie.

Die groei van die hierdie lenteblomme en kleur bring gewoon hoop.

Hoe kan daar uit soveel vernietiging soveel mooi kom?

‘n Mens is te klein om te begryp. ‘n Mens staan maar net dankbaar stom vir groei uit seer. Die mooiste groei kom dikwels uit die seerste seer.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article