Met die verskyning van hierdie Twyfelhoekie bereik ons die wonderlike mylpaal van 15 jaar se rubrieke, dus ongeveer 750 Twyfelhoekies.
Wat ‘n wonderlike voorreg om weekliks in enkele woorde gedagtes, mense, tye, plekke, gebeure, drome, teleurstellings, vreugdes en soveel meer te kan deel.
Ek het ‘n bietjie gaan terugblaai om vas te stel oor watter temas kuier ons die meeste met mekaar saam. Dit is vir my opvallend. Daar is altyd sekere temas wat herhaal in die lewe van ‘n mens.
Wat meer interessant is, is hoe mense verskillend reageer op dieselfde gebeure en omstandighede. Een hanteer ‘n uitdaging met grasie, ‘n ander met ‘n gesukkel.
Een is vergenoegd in alle omstandighede, ‘n ander is altyd onvergenoegd. Een is dankbaar, ‘n ander kan nooit dankbaar wees nie. Een soek vrede, ‘n ander skep voortdurend onvrede. Een reageer in liefde en verhouding, ‘n ander versuur verhoudings.
Die een tema wat vir my uitstaan oor die afgelope 15 jaar is die keuses wat jy daagliks uitoefen in die hantering van jou dag-tot-dag-bestaan.
Vreugde is ‘n keuse, vergenoegd wees is ‘n keuse, dankbaarheid is ‘n keuse, mooi wees is ‘n keuse, gelukkig wees is ‘n keuse.
‘n Mens kan nie altyd kies wat in jou lewe gebeur nie. ‘n Mens kan nog minder alles beheer. Maar jou reaksie op gebeure, mense, omstandighede en konteks is ‘n keuse.
By verre is dit die tema wat vir my die meeste uitstaan oor 15 jaar se saamdink: Hoe kies jy om jou omstandighede te bestuur en mee saam te leef?
‘n Ander tema wat ek voortdurend in ons saamdink met mekaar aantref, is die voorreg om die mooi en die goeie van die lewe te geniet.
Die lewe gaan so gou verby. Die lewe is so onseker.
Daarom is dit belangrik om die beste te maak van elke geleentheid van jy het.
So ja, ná 15 jaar bly die kernboodskap: Kies die mooi en geniet die lewe. Moenie jou moeg maak met die negatiewe nie.



