Met die draai van die nuwe jaar moes ek ons hondjie van amper 14 jaar veearts toe neem om te laat uitsit. Alhoewel hy fisiek nog goed gelyk het, het sy lewensgehalte daagliks agteruitgegaan.
Daar is min dinge so moeilik soos juis hierdie.
Om die troeteldier wat jou vertrou in die voertuig te laai en te weet dat jy net met sy halsbandjie gaan terugkom is hartverskeurend.
Soms neem dit baie lank om moed bymekaar te skraap om dit te doen. En baie lank om te herstel.
‘n Paar weke gelede het ons die DBV gekontak om ‘n hondjie aan te neem.
Ons het besef dat dit nie ‘n proses is wat onmiddellik vir jou ‘n troeteldier besorg nie.
Die eerste stap was ‘n tuisbesoek. Wanneer hulle tevrede is, mag jy na die hondjies gaan kyk en op een besluit.
Dit is die moeilike deel.
As ‘n mens ‘n plaas kon koop en al die diere aanneem, sou jy. Maar jy kan nie. Jy het waarskynlik net plek vir een. Watter een?
As jy op ‘n hond besluit het, word die hond na ‘n plaaslike veearts geneem om gesteriliseer te word.
Die tuisbesoek, die sterilisering, die eerste paar inentings, die administrasie – dit is alles by die bedrag ingeluit wat jy vir die dier betaal.
Wanneer die hond na die sterilisering weer op die DBV-perseel terug is, mag jy hom of haar gaan haal.
Die opwinding onder die vriendelike personeel, wat almal diereliefhebbers is, loop hoog. Daar word foto’s geneem en vrolik oor die vooruitsig van ‘n nuwe huis gesels.
Om ‘n dier wat verlore geraak het en nie opgeëis is nie, of ‘n dier wat nie meer versorg kan word nie, ‘n huis vol liefde te gee is beslis iets wat meer mense kan oorweeg. Selfs al neem dit ‘n week of twee.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


