Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Laat vergeet hand aan hand gaan met onthou


Verlede week toe skryf ek oor hoe wonderlik die gawe is om te kan en te mag onthou. Hoe kosbaar dit is om te kan terugdink aan mooi en goeie tye en soms ook aan die slegte tye.

Hy bel my uit die Noord-Kaap. Sommer toe hy begin gesels, kan ek agterkom ek en hy sal oor ‘n skaapkop heerlik kan kuier. Ons gesels dadelik asof ons mekaar jare ken.

Hy het baie moeite gedoen om my nommer te kry. Hy wil graag gesels oor wat ek geskryf het.

Hy onthou ook baie mooi hier van sy grootword plaas, van familie wat oorlede is, van mense en tye en plekke.

Maar dit is nie hoekom hy my bel nie. Hy wil nie daaroor gesels nie. Hy wil my boodskap so ‘n bietjie verder vat.

As ek wil, kan ek dit skryf. Ek wil. Daarom skryf ek dit.

Wat ek geskryf het, sê hy, is belangrik, maar daar is meer.

Hy stem met my saam. Onthou is mooi. Onthou is goed. Onthou moet gekoester word.

Daar is wel iets wat net so groot is.

Hy hou my aan die raai.

Ek is later doodnuuskierig oor wat hierdie belangrike saak is wat groter is as om te onthou.

Ewe skielik kom hy tot sy punt. ‘n Belangrike punt.

“Hannes, jy is reg, die gawe van onthou is groot en goed. Maar die gawe van vergeet, is net so belangrik. Soms selfs groter.”

Hy vier môre sy 92ste verjaardag.

Hy hou van onthou, maar soms wens hy dat hy kon vergeet. Van mense wat hom te na gekom het, van gebeure wat seergemaak het, van tye toe dinge verkeerd geloop het.

Hy vat saam. Onthou is belangrik. Om te kan vergeet, is net so belangrik. As jy wil onthou, moet jy ook die gawe wil hê om te vergeet.

Ek leer by hom.

Soms moet ‘n mens wil vergeet.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article