TWYFELHOEKIE | Onthou is ‘n kosbaarheid na aan die hart

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Onthou is ‘n kosbaarheid na aan die hart

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Natuurlik het almal van ons mooi en lelik om te onthou as ons terugkyk op ons lewenspad. As ‘n mens dink aan gebeure, tye, plekke en mense.

Met Oupa Plaas se afsterwe onlangs word ek weer gekonfronteer met die gawe om te mag onthou.

Mense uit my prille jeug wat weer kontak maak, familie wat ek te min sien (my eie skuld), gebeure wat onthou word wat ek eintlik al gedink het ek het vergeet. Swaar tye en mooi tye, maar ek besef ek onthou.

Ek sit sommer daar in sy laaste aardse blyplekkie en krap deur herinneringe.

Ek besef dit is swaar, maar dit is ook goed vir my. Ek weet nie eintlik wat ek soek nie, maar ek besef namate ek hier krap en daar krap, grawe ek in die onthou van my grootwordtyd.

Op die foto’s sien ek weer mense wat lankal oorlede is, onthou ek weer etenstafels wat gekreun het onder kos; ek onthou die waatlemoen op skinkborde en Oupa wat so fyn ‘n perske kon skil.

Die knipmessie in my hand laat my dink aan sy ou bekende hande, en hoeveel keer hy met daardie messie gewerk en geëet het.

Die ou banksakkies laat my dink aan sy rekenmeesterdae – sy deeglike liassering van sy papierwerk getuig iets van sy karakter.

Die halwe pakkies groentesaad orals laat my verlang na hom en die plaas. Hy was lief om te plant.

Daar is foto’s van tye lank verby, geslagte wat gekom en gegaan het.

Daar is ornamente, met geen waarde en tog ‘n leeftyd se terugdink. ‘n Ou plaas-tang. ‘n Stukkende snoeiskêr. ‘n Stukkie ketting. ‘n Kinderkrans-boekmerk. ‘n Verslete ou Bybel.

In die laaste laai van die kabinet wat ek ooptrek, is sy braaigoed. ‘n Paar stukkies hout, ‘n halwe sakkie houtskool, ‘n vuuraansteker, ‘n braaitang en ‘n ekstra braaitang.

En ek besef: Om te onthou is ‘n besonderse voorreg en ‘n gawe. Koester jou onthou.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article