Hy het ook ‘n rêrige naam gehad. Lank terug. Vir jare egter noem almal hom maar net Ou Flenters. Hy onthou hoe iemand hom die eerste keer op hierdie naam geroep het. Hy was toe nog nie so lank op straat soos nou nie.
Hy het nog hoop gehad, gedroom, gedink alles gaan weer omdraai. Hy hoop al jare nie meer nie, droom nie meer nie – hy weet nou daardie dag wat dinge gaan omdraai gaan nie meer kom nie.
Hy het eintlik oorkant die pad so bietjie papiere opgetel. Iets positiefs. Vir homself. Uit ‘n voertuig word hy geroep: “Ou Flenters, kom hier.”
Dit is nie sy naam nie. Toe het hy nog ‘n naam gehad. Daarom reageer hy nie eers nie. Eers later besef hy hierdie roep na Ou Flenters, is vir hom bedoel.
Hy verstaan nogal dat hy flenters gelyk het. Sy skoene van ‘n paar dae op straat was nie meer soos daardie dag toe hy nie meer huur kon bekostig nie. Net hy het geweet sy kouse en onderklere was ook al flenters. Ironies, vertel hy, het hy toe daardie vrou hom so vernederend roep, op daardie oomblik aan sy ma gedink.
Hy het skaam gekry. Toe sy die halwe pakkie-oorskiet-skyfies so in sy hande stop. Toe dink hy – ek het werklik flenters geword. Ou Flenters is nou my naam.
Hy het aan sy ma gedink, wat so trots op hom was. Lank terug. Hoe moes sy weet dat alles so sou uitmekaar val? Hoe moes sy weet dat hy liewer sou word vir drink as vir werk, as vir waarheid. Nou nie meer van die straat wil af nie. Hy wil nie meer rehabiliteer nie. Hy wil nie meer werk nie.
Hy wil net Ou Flenters wees.
Ek kry die tyding dat Ou Flenters oorlede is, met ‘n foto van sy ma in sy hand.
En ek dink, eintlik, Ou Flenters, is ons maar almal ewe flenters.
Net genade steek ons flenters weg.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



