Tienermeisie kry sewe jaar tronkstraf ná verkragting van voormalige vriendin

hofsake
‘n Tienermeisie is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis ná sy skuldig bevind is aan verkragting.

Tienermeisie kry sewe jaar tronkstraf ná verkragting van voormalige vriendin

hofsake
‘n Tienermeisie is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis ná sy skuldig bevind is aan verkragting.

SPRINGBOK – Ná ‘n ingewikkelde verkragtingsondersoek is ‘n tienermeisie verlede week skuldig bevind en tot sewe jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Dié skuldigbevinding en vonnis volg op ‘n voorval op 13 September 2024 toe die 16-jarige klaer ‘n plaaslike taverne saam met vriende besoek het en haar voormalige vriendin, toe 15 jaar oud, daar raakgeloop het.

Later daardie aand het die beskuldigde die slagoffer na haar huis vergesel waar die beskuldigde na bewering die slagoffer sonder haar toestemming met die hef van ‘n Okapi-mes gepenetreer het.

Ná die voorval het die slagoffer die saak onmiddellik by die beskuldigde se ouers en die polisie aangemeld. Sy is daarna vir mediese behandeling geneem, terwyl die beskuldigde in hegtenis geneem en later in die sorg van haar ouers vrygelaat is.

Die verhoor is verlede week, op 20 Augustus, in die Calvinia-streekhof afgehandel waar die beskuldigde skuldig bevind is aan verkragting ingevolge die Wet op Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) en tot sewe jaar direkte tronkstraf gevonnis is.

Unieke uitdagings in ondersoek

Kaptein Ivan Magerman, polisiewoordvoerder, sê die ondersoek het unieke uitdagings gebied aangesien die klaer sowel as die beskuldigde tieners was wat voorheen ‘n verhouding gehad het, en geen ooggetuies by die voorval was nie.

Ongeag hierdie uitdagings het die Calvinia-eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe (GKS) ‘n deeglike ondersoek gedoen, beskikbare bewyse bevestig en ten nouste met die vervolgingsgesag saamgewerk om te verseker dat die saak suksesvol voor die hof gebring word.

Brigadier Schalk Andrews, Namakwa-distrikskommissaris, het adjudant-offisier David Matthys van die Calvinia GKS-eenheid vir sy toegewyde ondersoekwerk geprys, en waardering teenoor aanklaer Darryl Bromkamp uitgespreek vir sy rol in die suksesvolle vervolging van die saak.

Verbreek stilte rondom seksuele misdrywe

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens beklemtoon dat seksuele misdrywe met die uiterste erns hanteer en deeglik ondersoek word, ongeag die ouderdom of omstandighede van die beweerde oortreder. Waar voldoende bewyse bestaan, sal oortreders, insluitend minderjariges, ooreenkomstig die wet aanspreeklik gehou word.

Voorts word kinders en gemeenskapslede aangemoedig om die stilte rondom seksuele misdrywe te verbreek en sulke voorvalle sonder vrees by die polisie of ander toepaslike owerhede aan te meld.

LEES OOK: Konsepregulasies verbied uitsluiting van swanger leerders, fokus op voortgesette onderwys

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article