POTPOURRI | Die wêreld is vol skerp punte, tog help dié om dit ronder te maak

Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | Die wêreld is vol skerp punte, tog help dié om dit ronder te maak


Die wêreld waarin ons leef, is vol spreekwoordelike skerp punte. Siekte. Dood. Werkloosheid. Konflik. Armoede. Ongelukke. Vrees. Twyfel.

Soms voel dit asof mense hierdie skerp punte afbreek en jou daarmee deurboor. Asof hierdie skerp punte wat ons moet oorleef, nie opsigself ‘n groot genoeg uitdaging is nie.

Hierdie soort mense is volop. Hulle verlekker hulle in die wete dat iemand anders swaarkry. Die feit dat hulle die swaarkry veroorsaak of vererger, besorg hulle nie slapelose nagte nie.

Mense kan wreed wees. Magsbehep wees. Selfgesentreerd wees.

Mense kan vrygewig wees. Ontfermend wees. Tegemoetkomend wees.

Daar is mense wat, met hul optrede, hierdie spreekwoordelike skerp punte effens ronder maak. Meer aanvaarbaar en meer hanteerbaar maak.

Daar is dierbare mense wat, in moeilike tye, na ander mense uitreik en ‘n hand van liefde en omgee uitsteek. Hulle is vriendelik. Opreg. Standvastig. Hulle verstaan wat dit behels om deur moeilike tye te gaan.

Ons almal ken mense wat onlangs hul werk verloor het of in kennis gestel is dat hulle binnekort nie meer werk gaan hê nie. Skokgolwe van ongeloof en verdwasing gooi ‘n somber kombers van wanhoop oor ons plaaslike gemeenskap.

Mense is, met rede, bekommerd. Bekommernis wat in desperaatheid oorvloei, is altyd ‘n gevaarlike kombinasie. Desperate mense kan dinge doen wat teen die grein met hul menswees is.

Gesinne probeer oorleef. Mense probeer sin maak uit die sinnelose.

Ons kan nie terugstaan en dink dat ons teen geweldige uitdagings verskans is nie. Die wêreld waarin ons leef, is vol spreekwoordelike skerp punte. Dankie aan diegene wat help om die skerp punte effens ronder te maak.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article