Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

“Hoe gaan dit met die besigheid?” vra ‘n vriend onlangs.

Ek dink ‘n oomblik daaroor. Dit gaan goed, maar daar is iemand wat daartoe neig om ander te boelie.

“Ek wik en weeg om ‘n kliënt weg te wys. Soos jy weet, is my besigheid ‘n boelievrye-sone.”

Hy glimlag. “Dit is jou besigheid. Jy lê die reëls neer.”

Ons wag onlangs in ‘n mediese praktyk se ontvangsruimte. Daar is ‘n groot kennisgewingbord op wat sê: “It is your choice to be rude to any member of our staff. It will be our choice to close your file and refer you to another physician. And yes, we are saddened to have to post this sign.”

Ek gesels kort daarna met iemand wat ook in ‘n mediese beroep is oor hierdie kennisgewing. Haar inset is dat meer praktyke so ‘n kennisgewing kan opsit.

Haar reaksie het my onkant gevang.

Is daar mense wat oor die algemeen so onbeskof is dat so ‘n kennisgewing nodig is? Dit is baie hartseer.

Eienaars van besighede mag en moet die reëls maak, selfs al verstaan almal nie altyd die redenasie agter sekere reëls nie. Die eienaar sal nie net goedsmoeds reëls maak om klante of kliënte of pasiënte te frustreer nie. Hulle sal goeie redes vir sekere reëls kan gee.

Dalk sal die wêreld ‘n beter plek wees as mense meer openlik teen boelies opstaan.

Jy hoef nie die eienaar van ‘n besigheid te wees om reëls neer te lê nie. Jy kan reëls neerlê by jou kantoor of jou huis of jou as persoon.

Om ‘n kennisgewingbordjie om jou nek te hang is seker nie die beste oplossing nie.

As dit wel die enigste manier is om boelies op ‘n afstand te hou, doen dit.

Meer mense moet saamstaan en sê: “Hierdie ruimte hier – dit is ‘n boelievrye-sone.”

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article