As daar een ding is wat ons as gereformeerdes onderskei van ander kerke, is dit dat ons Woordmense is. Ons glo ons leer God deur Sy Woord ken en die Woord staan sentraal in ons erediens en ons lewe.
Paulus bely in 2 Tim. 3:16-17 die Woord van God het groot waarde. Dit is nuttig om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek. Die Woord van God help ons om te leef.
Maar in ‘n wêreld met soveel stemme, uiteenlopende menings, wonder lidmate soms of hierdie eeue oue Boek nog relevant is. Kan ons vandag steeds met gesag vanuit die Woord praat? Is die waarhede van die Bybel steeds waarhede wat ons moet verkondig en uitleef?
‘n Bolandse predikant het ‘n paar jaar gelede opslae gemaak toe hy sy preek begin het deur te sê: “Ons kom tog nie die Tien Gebooie na nie, so kom ons skeur dit uit en gooi dit weg.” Hy het aangegaan en verskillende gedeeltes uit die Bybel uitgeskeur omdat ons dit nie uitleef nie. Uiteindelik het net ‘n paar geliefde gedeeltes oorgebly, soos Psalm 23, Psalm 121 en 1 Korintiërs 13.
Ek dink nie ek is verkeerd om te sê dat ons Bybels soms ook maar baie dun geword het nie. Ons grootste probleem is dat ons selektief met die Bybel omgaan. Ons kies die verse wat ons pas: dié wat troos wanneer ons troos nodig het, of dié wat ons gebruik om ander mee te veroordeel.
Ons lees graag wat by ons eie sienings en voorkeure inpas. Voor die Reformasie is daar dikwels geglo dat gewone mense nie die Bybel self kon verstaan nie. Hervormers soos Luther en Calvyn het die Woord weer aan die gewone gelowige teruggegee.
Tog sukkel ons vandag dikwels om Bybelse antwoorde op ons lewensvrae te vind. Dan verwag ons dat die sinode of die kerklike leierskap al die antwoorde moet verskaf.
Ons sal meer erns moet maak met Bybellees. Ons moet self die Skrif ondersoek, biddend na God se stem luister en vra hoe sy Woord ons lewe en ons wêreld rig.
LEES OOK: LEWENDE WATER | Jy dra nie alleen aan jou probleme nie




