Doktorsgraad toegeken aan ‘seun van Kalahari’ ná jare se deursettingsvermoë

Stuart Strauss en vrou, Gina.
Stuart Strauss en vrou, Gina. FOTO: Verskaf

Doktorsgraad toegeken aan ‘seun van Kalahari’ ná jare se deursettingsvermoë


UPINGTON – Vir die 61-jarige Stuart Strauss, ‘n seun van die Kalahari, het groot sukses ná jare se vasbyt, geloof en deursettingsvermoë met studies gevolg.

Strauss, ‘n seun van wyle Ballings en Sarah Strauss van Upington, se doktorsgraad in Filosofie in die Taalkunde (Philosophy in Linguistics) is vroeër vanjaar aan hom toegeken.

Sy loopbaan in die onderrig strek ver terug. As gekwalifiseerde onderwyser was hy in diens van twee hoërskole in Upington – Carlton van Heerden en Saul Damon. Hy was ook ‘n dosent by die Distrik Ses-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) in Kaapstad.

Later het Strauss sy nagraadse studie by die Universiteit Stellenbosch voortgesit. In 2012 het hy sy M.Phil-graad voltooi en daarna sy meestersgraad in 2016. Albei studies het op tweede taalonderrig, kodewisseling en taalvermenging gefokus. In 2018 was hy bevoorreg om met ‘n gesamentlike PhD-graad te begin, wat deur die Universiteit van Ghent in België én die Universiteit van Wes-Kaapland in Bellville onderskryf is.

Sy studiewerk is deur vier studieleiers – twee plaaslik en twee Belgiese professore – nagegaan. Weens die Covid 19-pandemie moes die inhoud van die tesis drasties verander en aangepas word. Weens die nuwe aanpassing is die tyd van voltooiing uitgerek.

Op 26 November 2024 het Strauss die openbare verdediging van sy tesis aan ‘n paneel van ses eksamenatore voorgelê, wat suksesvol was. Daarna is die PhD-graad aan hom – as doktor in Taalkunde – deur die Universiteit van Ghent toegeken.

Dit is gevolg deur die toekenning van sy doktorsgraad in die Filosofie van Taalkunde deur die Universiteit van Wes-Kaapland op 10 April vanjaar.

Albei Strauss se ouers was onderwysers, en sy jonger broer Warren is ‘n onderwyser by ‘n laerskool in Upington. Strauss was ‘n knap rugbyspeler wat vir die Collegians en Noordwes-Kaap as vaskopstut uitgedraf het.

Hy is met Gina, ‘n nooi Nel, getroud en die egpaar het vier kinders en vier kleinkinders.

LEES OOK: Kakamas lig trofee in ZFM-eindstryd teen Defence Force Collegians

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article