Freddie du Plessis (oom Tai) en sy dogter, Leilani, in gelukkige stemming.
Freddie du Plessis (oom Tai) en sy dogter, Leilani. FOTO: Verskaf

Oom Tai, ‘Volksie se koning’, in Upington ter ruste gelê


Die gemeenskap van Upington het Saterdag 27 Junie finaal afskeid geneem van Freddie du Plessis, ‘n bekende en knap motorwerktuigkundige met wie vele te doen gekry het.

Du Plessis (77) is op 15 Junie aan natuurlike oorsake oorlede. Sy afsterwe het as ‘n groot skok vir baie mense gekom omdat hy steeds aktief in sy werk was.

Oom Tai, soos hy deur baie genoem is, was ‘n besondere komplekse mens, ingetoë en van min woorde. Vir baie was hy die introvert, saggeaard en stil.

Hy is op 11 Oktober 1948 op ‘n plasie in die Gordonia-distrik gebore en het aan die einde van sy skoolloopbaan hom as ‘n motorwerktuigkundige bekwaam. Indien jy ‘n Volkswagen gehad het, veral die ouer modelle, was hy ‘n Volksie se koning. Baie mense in Upington het altyd hul Volksies na hom vir herstelwerk geneem.

Oom Tai het vir die eerste keer sy vaardighede by die destydse JP Ondernemings in Upington geslyp waar hy waardevolle ondervinding opgedoen het. Later het hy hom aangesluit by die nuwe Volkswagen-agentskap in die dorp en ná sy aftrede daar het hy sy eie werkswinkel begin.

‘Stilwees en vertrou’ was sy krag

Op 30 Julie 1977 is hy met ‘n nooi, Maria “Twinkle” Pedro, getroud. Sy was ‘n onderwyseres en met hul twee kinders, Ferdie (47) en Leilani (45), het hulle ‘n gelukkige gesin gevorm.

Ná haar afsterwe is oom Tai op 16 Desember 1997 in Bellville by Kaapstad met Marlene Meyer, wie reeds ‘n seun gehad het, getroud. Geen kinders is uit hul huwelik gebore nie.

“Freddie was liefdevol, dierbaar, saggeaard en ‘n betroubare mens. Hy was altyd daar vir my. Ek sal sy eerlikheid, sy grappies en sy aansteeklike lag altyd onthou”, sê Marlene.

“Oom Tai het die lewe op sy stil manier aanskou en verwerk en dit soos die Skrif ons herinner, ‘in stilwees en vertrou bestaan ons krag’, geleef,” het Johan van Wyk in sy huldeblyk in die kerk van sy jarelange vriend gesê.

Du Plessis is Saterdagoggend vanuit die Church of Grace and Mercy in die Morning Glory-woonbuurt in Upington ter ruste gelê. Hy word deur sy vrou, twee seuns, ‘n dogter en drie kleinkinders oorleef.

LEES OOK: ‘Ware gentleman en rugbylegende’ van Kakamas ter ruste gelê

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article