Daar is een moeilike ding in hierdie ou wêreld van ons, en dit is die persepsies wat ons het oor mense, plekke, instellings, skole, kerke en sommer alles.
So min van ons doen moeite om uit te vind wie iemand werklik is, of probeer agter die waarheid van ‘n saak kom, of probeer kyk hoe dinge werklik is. Waarskynlik omdat ons dikwels gemaklik voel met die persepsies.
Tog doen dit soveel skade. Wanneer jy iemand anders hanteer met die persepsies wat jy in jou ronddra oor daardie persoon, kom jy dikwels iemand geweldig te na.
‘n Ander woord vir ‘n persepsie, wat dalk duideliker die implikasies daarvan aandui, is die woord voorveronderstelling.
Miskien is dit ‘n moeilike vraag om jouself mee te konfronteer: om te meet en te weeg hoe opreg jy is, of met hoeveel voorveronderstellings jy leef.
In kort – gee iemand anders ‘n kans; gee ‘n skool ‘n kans; ‘n kerk, ‘n instelling, wie of wat ook al.
Moenie dat ‘n ander vir jou bepaal hoe jy moet dink nie.
Te veel, te dikwels, word persepsies of voorveronderstellings gevorm deur leuens, kwaadwillige bedoelings, onkunde of sommer net deur tyd of omstandighede.
Wees groter as enige persepsies.
Die vraag is hoekom ons ons nie moet oorgee aan ons persepsies oor iets of iemand nie?
Die antwoord is eenvoudig: Meestal omdat dit nie waar is nie.
Dit is my eie gedagte van of oor iemand. Soms moet ek iemand beter leer ken.
Soms moet ek die balk uit my eie oog haal. Soms moet ek konsekwent wees. Soms moet ek leer om opreg ‘n ander ‘n kans te gee.
‘n Mens kan dit ook andersom hanteer. Wat maak ek as my binnekant verniel word met persepsies oor my?
Wees groter en beter as dit. Leef die waarheid.
Moenie dat persepsies oor jou jou koers bepaal nie. Wees maar versigtig vir daardie voorveronderstellings. Leer iemand ken vir wie en wat hy of sy is.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




