“Jy moet iets op jou verjaardag doen,” sê hy. “Dit is die enigste dag dat jy wettiglik liberties mag vat.”
Ek glimlag.
Hierdie woorde van hom laat my aan ‘n goeie vriendin dink. Ons is maatjies vandat ons ses jaar oud is.
Tussen ons twee is sy die dapper een. Ek sou nie in die boom klim nie, want ek was bang die tak gaan breek.
Sy was die een wat in die boom geklim het en op die tak gerits het om vir my te wys dit is veilig, dit gaan nie breek nie.
“Op jou verjaardag mag jy nie pak kry nie,” het sy altyd gesê.
Sy het hierdie selfopgelegte reël met oorgawe nagekom. Op haar verjaardag het sy alles gedoen wat haar op ander dae in die moeilikheid sou laat beland.
Sy sou teen die geut opklim om te kyk of sy op die dak kan sit.
Sy sou per ongeluk op die sitkamermat mors maar dit nie, soos gewoonlik, dadelik opruim nie.
Sy sou luidkeels sing.
My keel het namens haar toegetrek. Op haar verjaardag sou ek twee treë agter haar bly en myself distansieer wanneer dinge, volgens my, te erg begin raak.
Dit is immers haar verjaardag, nie myne nie. My pak slae is ‘n groot werklikheid.
Mense verskil. Sommige mense vier diegene na aan hulle se verjaardag met oorgawe, maar nie noodwendig hul eie nie.
Ander mense gebruik hul verjaardag as ‘n geleentheid om met vriende te kuier of vir ‘n blaaskans weg te breek.
My vriendin het waarskynlik ‘n goeie punt beet.
Ons hoef nie oorboord te gaan en reëls te oortree nie. Maar dalk moet ons ‘n slag net hierdie een spesiale dag, ons verjaardag, met oorgawe vier.
Want, volgens haar, mag daar op hierdie spesiale dag nie met ons geraas word nie.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



