Oor ‘n tydperk korter as die afgelope skoolvakansie is vier ruimtevaarders maan toe en terug.
Hierdie eerste bemande maanverbyvlug in meer as 50 jaar is geskiedkundig.
Nie net was die Kanadees Jeremy Hansen die eerste nie-Amerikaner wat (in ‘n ruimtetuig) om die maan gewentel het nie, maar was Victor Glover die eerste persoon van kleur, en Christina Koch die eerste vrou wat só ‘n sending meegemaak het.
(Die woord “beman” in hierdie konteks is daarom so verouderd soos die Eagle-maanmodule van die Apollo 11-sending waarmee Neil Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins in Julie 1969 op die maan geland het.)
Saam met bevelvoerder Reid Wiseman is Hansen, Glover en Koch op 1 April in die Orion-bemanningsvaartuig as deel van die Artemis II-program die ruimte in, en op 10 April kon hulle weer Moeder Aarde betree.
In dié nege dae, een uur, 31 minute en 35 sekondes het hulle 406 771 km ver gereis, aldus die National Aeronautics and Space Administration (NASA).
LEES OOK: Four astronauts complete first crewed Moon mission in 50 years
Op ‘n nuuskonferensie die afgelope naweek het die vier ruimtevaarders ‘n beroep op wêreldeenheid gedoen nadat hulle die aarde se isolasie in die (onmeetlike) ruimte aanskou het.
Koch het mense aangespoor om hul gedeelde menswees te erken.
“What struck me wasn’t necessarily just Earth, it was all the blackness around it. Earth was just this lifeboat hanging undisturbed in the universe.”
– Christina Koch
Die nuutste maansending het reeds tot nuwe samesweringsteorieë gelei – net soos met die maanlanding van 1969 wat deur komplotters beskryf is as iets wat nie plaasgevind het nie en in ‘n ateljee op moederaarde verfilm is.
Om mense ‘n rat voor die oë te draai is in 2026 veel makliker as in 1969 – kunsmatige intelligensie (KI) is nou beskikbaar. Hiermee kan enigeen wat ‘n rekenaar of selfoon gebruik die waarheid verdoesel of vervorm. Of ‘n eie “waarheid” skep.
Juis om dié rede (en om KI se mening te toets) delf ‘n mens dieper in die maanverbyvlug – maar vele bevestigings en amptelike bronne wat nie deur KI geskep is nie dui aan dat dit regtig plaasgevind het.
Of jy met die maan(verbyvlug) gepla is of nie, en of jy alles glo wat jy sien of nie, die einste KI stel voor dat die mens moet aanhou om menslike skeptisisme, tegniese waarneming en kritiese denke te gebruik. Wonder maar oor ‘n saak, en lees verder daaroor voordat jy die vervormde waarheid versprei. Só sê KI.
En KI sê as iets te perfek of te goed lyk om waar te wees, of as dit jou onmiddellik kwaad of emosioneel maak, is dit waarskynlik ‘n regte-egte “deep fake“.





