“Die jeug van vandag…” sug bejaardes en vertel hoe hulle kilometers ver skool toe moes stap (kaalvoet, ongeag warm sand of hard-gerypte gras) terwyl dié wat 30 jaar en effens ouer is, hul oë oor die jonges rol met ‘n “Ons het darem matriek sonder Chat GPT en kunsmatige intelligensie gedoen”.
Op die oog af het vandag se jeugdiges dit heel gemaklik. Vir meer as twee dekades is daar selfs ‘n Internasionale Jeugdag op 12 Augustus “om die potensiaal van jongmense as vennote in die wêreldsamelewing te vier en om kwessies wat die jeug oraloor raak, uit te lig”.
Terloops, daar is nie ooreenstemming watter ouderdomsgroepe as jeugdiges beskou word nie. Die Verenigde Nasies (VN) beskou jeugdiges as 15 tot 24 jaar oud, terwyl Suid-Afrika 15- tot 35-jariges as jeugdiges beskou word. Dit op die kantlyn. Volgens die VN is daar nagenoeg 1,2 biljoen jeugdiges op die wêreld wat ongeveer 16 persent van die bevolking uitmaak.
Maar jeugdiges sluit nie net dié in wat met handelsnaamklere, spiere (meestal seuns) en tuitlippies (meestal meisies) op sosiale mediaplatforms te sien is nie.
Jeugdiges, volgens die VN en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), staar ‘n komplekse wêreld in die gesig. Boonop is nagenoeg 2,3 miljoen jeugdiges as vlugtelinge gebore.
Miljoene jeugdiges – 900 miljoen volgens een bron – beleef armoede op verskeie vlakke: Weens armoede het hulle nie toegang tot onderwys, gesondheidsorg, veilige water, voedsame kos en skuiling nie. Meer as 140 miljoen jeugdiges van hoërskoolouderdom woon nie skool by nie weens armoede, konflik of sistemiese ongelykheid. Miljoene werkende jeugdiges is in lae-betaalde, onsekere of informele werk met min werkersbeskerming. Volgens ‘n bron is meer as 600 miljoen jeugdiges nie in onderwys, indiensneming of opleiding nie.
Kinders en jeugdiges wat in armoede leef verwerf minder vaardighede – fisiese en intellektuele ontwikkeling ingesluit. Dit bring mee dat hulle as volwassenes ‘n veel skraler kans het om ‘n voldoende inkomste te verdien en hulself in die samelewing te kan handhaaf. In streke waar oorloë woed en uiterste armoede voorkom word die jeug met kwessies soos mensehandel, kinderhuwelike en dwangarbeid konfronteer.
Volgens die WGO is depressie en angstigheid algemeen by ‘n groot aantal jeugdiges; selfdood is die derde grootste oorsaak van sterftes onder dié groepering.
Boonop bestaan ‘n wyerwordende digitale kloof: Terwyl baie aan sosiale mediaverslawing en kuberafknouery ly, het ander glad nie digitale geletterdheid en internettoegang wat vir die moderne arbeidsmark nodig is nie.
Ondersteun die jeug, want soos ene Kailash Satyarthi sê: “The faces of young people are the faces of our past, our present and our future.”
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




