“Ver in die ou Kalahari” se lirieke sal soos dae van weleer se “Wat is ‘n huis sonder ‘n Moeder”en dergelike ander, met nostalgie geraam word indien die voorspelling dat die Noord-Kaap die land se nuwe mynbou-spilpunt kan word, bewaarheid word.
‘n Mens besef die wêreld verander elke oomblik, maar “wyd lê die eindelose vlaktes” sal iets van die verlede wees, en so ook “rooi Afrikaner-osse sien jy om elke draai”.
Mynhope sal die horisonne van die eindelose vlaktes oorheers, en die rooi osse, wild, skape, bokke en ander beeste sal ander weivelde moet kry.
Die wat weet en in die aardbodem grawe (en nie om mielies of hawer te plant nie) weet van die massiewe neerslae van allerlei minerale wat mynbase, nywerhede en wêreldleiers na hul asem laat snak weens die ekonomiese potensiaal daaraan verbonde.
Diegene wat daaroor praat, beeld werkskepping, behuising, voorspoed, en vrede en geluk as sinoniem met dié feite uit.
Maar agter hierdie blink beloftes van welvaart is die stowwerige werklikheid van infrastruktuur in die Noord-Kaap wat ‘n mens in die meeste gevalle in droewige trane wil laat uitbars.
Soos deur talle ingeligtes genoem op die onlangse samewerkingsessie in Sandton, gereël deur die Noord-Kaapse regering, is ‘n onbeskadigde en funksionele infrastruktuur ‘n absolute vereiste vir ekonomiese vooruitgang.
LEES OOK: Northern Cape positioned as South Africa’s next major mining hub
Die Noord-Kaapse myne van môre kan nie op die vervalle fondamente van vandag gebou word nie.
Dink aan die gebrek aan werkende spoorlyne wat hierdie groot volumes grondstowwe na hawens en nywerhede moet vervoer; betroubare kragvoorsiening; munisipaliteite wat basiese dienste aan geraamde duisende werknemers moet bied; deurgangsroetes en ander paaie wat die verkeer veilig en doeltreffend kan hanteer.
Tans kreun die provinsie se padnetwerk reeds onder die volgelaaide vragmotors.
Sonder daadwerklike en bykans onmiddellike ingryping sal nóg meer vragmotors op dié paaie rampspoedige gevolge hê.
Mynbou bring rykdom, maar dit bring ook ou en nuwe vraagstukke na vore. Sonder deeglike, streng en volgehoue beplanning kan dié droom van ‘n mynbou-spilpunt in ‘n logistieke nagmerrie ontaard.
Die Noord-Kaap het die minerale onder die grond, maar die suksesvolle hantering daarvan gaan bo die grond bepaal word.
En mag die mynbase en almal wat ‘n sê het, tog stukke aarde onaangeraak laat sodat ons nog sonbesies kan hoor sing en in die koelte van kameeldoringbome kan sit.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



